Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Dawid Krige - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Dawid Krige

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Ons kan nie almal altyd tevrede stel nie, en foute is onvermydelik. Maar uiteindelik is die belangrikste ding dat ek na myself in die spieël kan kyk en weet ek het my bes gedoen.”

Die Suid-Afrikaner (tans in Londen) Dawid Krige, die man agter Cederberg Capital, was in Durbanville en Linden op skool voor hy ʼn Matie geword het. Hy het met Aktuariële Wetenskap begin – hoofsaaklik omdat sy pa dit gedoen het – maar ná sy tweede jaar na Institusionele Beleggings oorgeskakel. Hy was in Wilgenhof en het sy BComm in 1999 en sy honneursgraad in 2000 behaal.

Ná sy studies het hy Londen toe getrek en sy loopbaan in FirstRand se multibestuurderafdeling begin. In 2005 sluit hy by Mondrian Investment Partners aan as die hoof van hulle beleggings in China. In 2011 besluit hy om sy eie pad te loop en begin (as medestigter) Cederberg Capital, ʼn toppresterende Chinese ekwiteitsbeleggingsmaatskappy met kantore in Londen en Shanghai.

“Dit is ietwat vreemd, ʼn Suid-Afrikaner in Londen wat in China belê, maar tot dusver werk dit!” sê hy.

Hy is geesdriftig oor die bemagtiging van mense deur hulle welvaart te laat groei en hy geniet die mededingende aard van sy werk. “Ons ding nie net met ons eweknieë en die mark mee nie, ons ding ook mee met onsself en die inherente vooroordele en heuristiek wat mense verrassend irrasioneel maak. Dit pas ook my liefde vir lees en dink, hoewel sommige mense dit dagdroom sal noem!”

Ná 17 jaar in Brittanje het Dawid waardering vir die Britte se houding van ‘bly kalm en hou aan’, wat hom aan Suid-Afrikaners se eie onverstoorbaarheid herinner. Dit was al nuttig tydens krisisse. “Ses maande ná die bekendstelling van ons fonds was ons 18% agter die indeks, wat ʼn rampspoedige begin was. Slaap het my ontwyk, so die meeste dae was ek 02:00 wakker en het ek maar begin werk. Dit het maande lank so gegaan, totdat sake beter begin lyk het. Die versoeking om op te gee of goed anders te doen, was daar, maar ons het in ons proses geglo en daarby gehou, wat uiteindelik beloon is,” onthou hy.

Volgens Dawid is intellektuele eerlikheid noodsaaklik in belegging. Hy stem saam met die fisikus, Richard Feynman, wat sê: “Die eerste beginsel is dat jy nie jouself moet flous nie – en jy is die maklikste persoon om te flous!”

Uitnemendheid is nog ʼn waarde waarna hy streef. “Ons kan nie almal altyd tevrede stel nie, en foute is onvermydelik. Maar uiteindelik is die belangrikste ding dat ek na myself in die spieël kan kyk en weet ek het my bes gedoen.”

Sommige van sy drome en doelwitte is om ʼn goeie man en pa te wees, om Cederberg die beste in sy klas te maak, en om terug te gee wat God aan hom geskenk het.

- Deur Elbie Els -