Matiestemme

Dr Erna Blancquaert

Alumna van die Fakulteit AgriWetenskappe


“Streef jou drome na en as jy dit regtig wil behaal, sal jy. Niks is onmoontlik nie.”

Gedurende haar grootwordjare in die Paarl was dr Erna Blancquaert altyd gefassineer deur die beskrywings van wyne op die etikette op die bottels.
“Suurlemoen, koejawel, lietsjie, kersie, tabak… Ek het gewonder hoe dit kon wees as druiwe glad nie so proe nie?” onthou sy.

Hierdie voormalige leerder van Klein Nederburg Sekondêre Skool het daarom besluit om ‘n graad in Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer, en het so nie net die eerste lid van haar familie geword om aan die US te studeer nie maar ook die eerste swart vrou om ‘n PhD in Wingerdkunde te ontvang. Sy het haar doktorsgraad in 2015 verwerf.

“Om die eerste swart vrou te wees om hierdie graad te ontvang, het my baie nederig laat voel. Mense het dikwels hierdie assosiasie met swart navorsers dat hulle nie in staat is om uitmuntendheid te behaal nie. Dit is ‘n moeilike pad om te stap, maar my raad is: Streef jou drome na en as jy dit regtig wil behaal, sal jy. Niks is onmoontlik nie.”

Erna is baie dank verskuldig aan ‘n paar merkwaardige vroue wat as rolmodelle gedien het. Professors Anna-Maria Botha-Oberholster en Melané Vivier is boaan haar lys vir hul werk en prestasies in hul onderskeie navorsingsvelde.

“Hulle is fenomenale mentors wat altyd beskikbaar is om jong akademici soos ek by te staan,” sê sy.

Sy is in die eerste jaar van haar meestersgraad as onderrigassistent aan die US aangestel en in Mei 2009, nadat sy haar meestersgraad verwerf het, as ‘n junior lektor.

“Om betrokke te wees by die opleiding van toekomstige wingerdbouers en wynmakers van Suid-Afrika is baie bevredigend, maar die beste deel van my werk is om buite te wees, deur die wingerde te stap en oplossings vir navorsingsprobleme te vind.”

Haar studies- en loopbaankeuse het haar die geleentheid gegee om wêreldbekende wetenskaplikes in die velde van wingerdbou en wynkunde te ontmoet, terwyl die ryk diversiteit op die US se kampus haar geleenthede gebied het om mense en die manier waarop hulle saamwerk, beter te verstaan.

Op die oomblik is Erna ‘n Fulbright Afrika-navorsingsbeurshouer aan Washington Universiteit in die VSA.

“Ek het vir die program aansoek gedoen aangesien ek nie die geleentheid gehad het om ‘n nadoktorale genootskap te doen nie. Dit gee my die geleentheid om in die laboratorium van uitgelese professor Markus Keller te werk.

“Dit is ‘n baie vrugtevolle tydperk,” sê sy. “Dit is baie papierwerk, maar wat maak baie papierwerk saak wanneer jy uitstekende navorsers in landbou kan ontmoet, ‘n nuwe kultuur kan leer ken en veldwerk in die rykste landbougebiede in die Verenigde State kan doen.”

Haar grootste motivering vir sukses is haar man Maarten en driejarige seun Josh.

- Deur Pia Nänny -