Matiestemme

Dr Etienne van der Walt

Alumnus van die Fakulteite Natuurwetenskappe en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe


“Ek voel ongelooflik bevoorreg om lid te wees van die mees fassinerende, intelligente, maar nederige, neurologie-familie.”

Dr Etienne van der Walt, ‘n bekende neuroloog en stigter van AmazingBrainz en Neurozone, het sy passie vir medisyne eers ontdek toe hy al ‘n derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) was, met Chemie en Wiskundige Statistiek as hoofvakke. Dit het hom nog langer geneem om te besef dat sy eintlike roeping was om die geheime van die brein te bestudeer.

“Ek het begin as ‘n eerstejaar by Dagbreek-koshuis in 1985 met die plan om eendag vir Sasol te werk en selfs vakansietyd by verskillende Sasol-aanlegte deur te bring,” onthou Etienne. “Dit was egter in my derdejaar wat ek besef het dat ek eintlik ‘n dokter wou word – iets wat my lewe onherroeplik verander het. Ek het begin met my MBChB in 1988, nadat ek ‘n BMedSc tussen my derde- en vierdejaar voltooi het, en uiteindelik my voorgraadse studies in 1994 by Tygerberg voltooi. My 10 jaar van voorgraadse studies en vier jaar van nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch was van die beste jare van my lewe. Ek het so baie verskillende stelle lewenslange vriende gemaak.”

Etienne koester veral die herinneringe aan sy mentor en boesemvriend Paul van Zyl. “Hy was ‘n ongelooflike intellek en konsulterende dokter en ons het baie goeie vriende geword tot die dag van sy dood. Paul het my geleer hoe om als te bevraagteken en hoe om ‘n sorgsame, dog kliniese, dokter te wees.”

Etienne kan die dag wat hy besluit het om ‘n neuroloog te word nog soos gister onthou: “Ek kan die oomblik wat ek verlief geraak het op die brein en al sy raaisels baie goed onthou. Dit was in my vierde jaar van mediese studies toe ons vir die eerste keer aan die kliniese aspekte van neurologie en neurochirurgie blootgestel is. Ek het nie juis veel geweet nie en dus die hoof van neurochirurgie meer oor die veld uitgevra. Hy was wys genoeg om te besef dat my belangstelling meer gelê het in die werkmeganismes van die brein en aanbeveel dat ek neurologie studeer. Ek dink dit was ware liefde vanaf die eerste oomblik en ek voel ongelooflik bevoorreg om lid te wees van die mees fassinerende, intelligente, maar nederige, neurologie-familie.”

Ná sy kwalifisering as neuroloog het Etienne gewerk as konsultant-neuroloog aan die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch en ook die leiding geneem in die konseptualisering en instelling van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid, wat uiteindelik gelei het tot die Ukwanda Landelike Kliniekskool. “Die tydperk wat ek spandeer het in die Wes-Kaap se verarmde gemeenskappe het my laat besef hoe groot die uitdaging is wat ons in die gesig staar. Armoede stuit die potensiaal van ons jong kinders. Ek onthou nog hoe ek vir my vriende en kollegas gesê het, as ek R10 gehad het om al ons probleme op te los, dan sou ek R9 daarvan in vroeë kinderontwikkeling belê.”

Hierdie belangrike insig het daartoe gelei dat Etienne ‘n onafhanklike nie-winsgewende organisasie, genaamd AmazingBrainz, in 2007 gestig het wat toegewyd is aan die ontwerp van programme vir die breinstimulasie van jong, ontwikkelende kinders – veral in minderbevoorregte gemeenskappe. “Die AmazingBrainz-program werk wonderlik,” sê Etienne. “Ons beoog om binne die volgende drie jaar AmazingBrainz verder uit te brei om die magiese nommer van een miljoen kinders in Suid-Afrika te bereik. Wanner ons dit kan regkry om so ‘n groot aantal kinders in ons geliefde land te bereik, sal ons ‘n groot verskil maak aan armoede, terwyl ons ook die ware menslike potensiaal en kapasiteit op die gemarginaliseerde gemeenskapsplatforms ontsluit.”

Etienne se fassinering met die talle merkwaardige ontdekkings in die verskeie breinwetenskappe en die groot potensiaal van hierdie nuwe kennis om menslike kapasiteit te verbeter, het hom geïnspireer om Neurozone, ‘n neurowetenskaplike onderneming, in 2010 te stig.

“Die kern van Neurozone is ‘n eie werkende model van breinprestasie wat voortbou op die anatomie, biologie en fisiologie van breinprestasie om sleuteldrywers te identifiseer wat individueel en gesamentlik verbeter kan word sodat veerkragtigheid en hoë prestasie bevorder kan word vir ‘n voorspoedige lewe,” verduidelik Etienne. “Dis ook gebaseer op navorsing afkomstig van neurowetenskap, sielkunde, psigiatrie ens. Ons het reeds die sukses van die model in groot organisasies bewys en is tans besig om dit in verskillende industrieë toe te pas om die kapasiteit van bestuurders, leiers en professionele persone in hoë-stres werkomgewings te verbeter deur te fokus op die brein/liggaamstelsel.”

“Pasiënte wat leer om chroniese stres in die werkplek suksesvol te bestuur, asook die gesondheidskwessies wat dikwels met stres gepaard gaan, rapporteer dat hulle nie net van hul simptome herstel nie, maar ook groter sukses in die werkplek en lewe in geheel ervaar,” voeg hy by.

Wanneer dit kom by die verbetering van menslike kapasiteit, is Etienne baie gefokus op die volgende drie areas: leierskapsontwikkeling, opvoeding en vroeë kinderontwikkeling. “Hierdie drie areas is onderling verbonde en verwant aan mekaar – ons moet op al drie saam fokus, en daarom lê Neurozone en AmazingBrainz my beide so na aan die hart.”

As neuroloog, navorser, innoveerder, sakeman, fasiliteerder en hoofspreker, het Etienne tot dusver ‘n baie interessante en gevarieerde loopbaan geniet. “Ek is net dankbaar dat ek soveel maniere kon geniet om instrumente te ontwikkel waardeur ek ‘n sinvolle en doelgerigte lewe kan lei. Ek is lief vir die brein en bly gefassineerd daardeur, deur al die daaglikse ontdekkings regoor die wêreld, asook die ontdekkings wat ons maak deur ons eie navorsing.”

- Deur Birgit Ottermann -