Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Petrie Terblanche - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Petrie Terblanche

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Die industrie verander vinnig en ek geniet dié aspek baie. Ten einde relevant te bly moet mens byhou met beste tegnologiepraktyke, asook die jongste ontwikkelings op risikobestuursgebied.”

Petrie Terblanche is duidelik opgewonde oor sy vermoë om ’n werklike verskil te maak by Criteo, ’n maatskappy met sy hoofkantoor in Parys, Frankryk, wat herbemarkingsagteware vir aanlyn reklame vervaardig.

“Ek geniet dit om vir ’n maatskappy te werk waar ek prosesse kan help verbeter en terselfdertyd algehele risikoblootstelling kan verlaag. By Criteo ervaar ek hoe dinge verander namate my idees vir die groei van die maatskappy in werking gestel word.”

Petrie is Onderhoofbestuurder van Interne Kontrole en Risikobestuur. In dié hoedanigheid is hy daarvoor verantwoordelik om bedryfsrisiko’s te bepaal en te dokumenteer, en die risiko’s aan te spreek ten einde te sorg dat Criteo ’n kernspeler bly op een van die mees mededingende ekonomiese gebiede ter wêreld – reklametegnologie.

Her-rig reklametegnologie (“retargeting marketing”) gaan oor die vervaardiging van ontledings- en digitale instrumente om reklame op individue en bepaalde gehore te fokus. Petrie het dié sektor in 2015 betree – voor dit was hy betrokke in “Silikon Valley”, die senter van die Amerikaanse IT bedryf.

Die snelle tempo van die sektor pas hom soos ’n handskoen: “Dinge verander vinnig, en ek geniet dit ongelooflik. Ten einde relevant te bly moet mens byhou by beste tegnologiepraktyk en die jongste ontwikkelings op risikobestuursgebied.”

Hy het voorheen op die gebied van openbare rekeningkunde, IT-hardeware en mobiele randapparatuur gewerk, en beskryf die oorgang na ’n sagtewaremaatskappy as opwindend en uitdagend.

By Criteo moet Petrie ’n verskeidenheid nuwe faktore in gedagte hou ten einde die maatskappy se bedryfsrisiko’s te identifiseer, die interne risikobestuurstrategie te formuleer, asook die interne kontroles aanbeveel en toets om voldoening aan finansiële verslagdoeningsvereistes te verseker.

“Ek moet kan visualiseer hoe ons produkte data virtueel en wêreldwyd deur middel van biljoene transaksies verbind. Die skaal en impak verskil, en so ook die wisselvalligheid van die moontlike verandering, wat weer ’n gans ander tipe risiko inhou.”

Sonder enige spesialisopleiding in die reklametegnologiesektor moes Petrie vining die nodige kennis in die pos bemeester.”

“Die aspek van my werk wat ek die meeste geniet is om oor die wereldwye spectrum van ‘n multinasionale maatskappy betrokke te kan wees en op verkeie vlakke ‘n impak te kan maak”

Nogtans gaan hierdie vermoë ook met aansienlike verantwoordelikheid gepaard.

“Criteo is nou gereed vir groot groei. Verlede jaar was uitdagend, want die firma het van ’n enkel- tot ’n multiprodukaanbod oorgegaan. Ons gaan nou nog ‘n stap verder deur ons kliente (adverteerders asook ‘publishers’) in staat te stel om na outomatisasie en selfbediening te beweeg.”

Die verandering hou groot geleenthede asook wesenlike risikos in. “Makrorisiko’s kan maatskappye op hulle knieë dwing as hulle nie versigtig is nie,” waarsku Petrie.

Die geleenthede en uitdagings is boonop soveel groter vir so ’n jong maatskappy.

“Criteo is in 2005 gestig en in 2013 genoteer. Die personeellede is hoofsaaklik 30-plussers wat nog nie veel blootstelling aan die korporatiewe kultuur van interne kontrole en risikobestuur gehad het nie. Ek is

aangestel om daardie kennis aan die personeel oor te dra en om die begrip van risikobestuur in die kultuur van die maatskappy te vestig.”

Petrie, wat ’n span van agt bestuur, moet ook fyn trap om aan twee verskillende stelle korporatiewe verslagdoeningstandaarde te voldoen: Hoewel Criteo uit Frankryk werk, is dit op die Amerikaanse Nasdaq-effektebeurs genoteer. “Die uitdaging is om die heel beste oplossings te bedink, soepelheid te behou en risiko’s doeltreffend te bestuur.”

Op soek na antwoorde op die vrae wat gedurende die ontwikkeling van Criteo opduik, reis Petrie wyd en werk saam met ’n internasionale gemeenskap aan die voorpunt van risikobestuur.

By die werk, sê hy, “gebeur dit selde dat vandag nes gister verloop”. En as hy sy kantoor verlaat, wat geleë is in ’n stylvolle blok met sy eie kafeteria wat Franse disse bedien, is ook sy huislewe in Parys vol nuwighede en opwinding.

Tuis het hy en sy man, ook ’n Stellenbosch-alumnus, en hulle kleuters, die tweeling Nico en Emma, ’n asemrowende uitsig op die Eiffeltoring en geniet hulle die Europese stadslewe terdeë.

Petrie beskryf die ervaring as ’n “avontuur”. Hy leer tans Frans én alles wat hy kan van die Franse kultuur. Hy hou van fietsry en somerpieknieks langs die Seine. Ná meer as ’n dekade in die Verenigde State is dit ook ’n welkome verandering dat die Franse hoofstad nader is aan ander Europese stede én aan vriende en familie in Suid-Afrika.

Hy het verlede jaar die Universiteit Stellenbosch (US) se Eeufeesvieringe in Parys bygewoon. “Dit was wonderlik om mede-alumni te kon ontmoet – ons het ’n onmiddellike band gehad.”

Petrie sê hy gebruik steeds die netwerk wat hy op universiteit opgebou het, en beskryf die gehalte van die US se gegradueerdes as “fenomenaal”.

“Stellenbosch berei studente werklik vir die toekoms voor.”

- Deur Mark Paterson -