Matiestemme

Prof Charles Adjasi

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Die band tussen Maties wat mekaar by ʼn wêreldwye konferensie raakloop, is altyd vir my hartroerend en verblydend.”

Vir ʼn gemeenskap, of ʼn land, om ekonomies, maatskaplik en polities op volgehoue wyse te groei en te ontwikkel, moet die finansieringstrategieë, -beleide en institusionele strukture pasgemaak wees om aan die behoeftes en strewes van daardie gemeenskap of land te voldoen.

“In wese is hierdie die aspekte wat ontwikkelingsfinansiering aandryf,” verduidelik Charles Adjasi, Professor in Ontwikkelingsfinansiering en Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB).

“Ek het hoofsaaklik daarop gefokus om die volgende te verstaan: huishoudelike finansies en die finansies van mikro-, klein- en mediumondernemings; die rol wat kapitaalvloei, en spesifiek direkte buitelandse belegging, in die aanvuur van produktiwiteit speel; die groei van firmas in onwikkelende lande; en laastens die struktuur en vorm van finansiële markte vir groei en ontwikkeling.”

Hoewel beduidende werk oor die finansiële markte in Afrika deur sy voorgangers en senior kollegas gedoen is, was daar teen die laat 1990’s blykbaar ʼn voortydige afsluiting van hierdie aller-belangrike werk, herroep hy.

“Ek en ander het die mantel opgeneem om nuwe lewe in hierdie werk te blaas en dit in voorheen-onverkende dimensies te stuur. Dit is bemoedigend om ʼn herontwaking van die ontwikkeling van die finansiële sektor in Afrika hoog op die agenda van beleidsingrypings en op aanbeveling van groot internasionale instellings te sien.

“Hiermee saam kom finansiële insluiting, of finansiële toegang vir almal, teen bekostigbare pryse, wat ʼn aanvaarde wêreldwye beginsel of standaard vir die mensdom geword het.”

Prof Adjasi het verskeie professionele projekte en navorsingsonderwerpe in gedagte, insluitend ʼn ondersoek na daardie strukture in die finansiële markte van Afrika wat optimaal is vir die vergroting van intra-Afrika handel, ekonomiese groei en ontwikkeling.

“Ek stel ook daarin belang om te kyk hoe om komplementêre en vernuwende ontwikkelingsgeoriënteerde kapitaal na Afrika te laat vloei, asook om te leer uit voorkoloniale Afrikastate se posisie van die staat in die verlede, politiek, filosofie, finansiële stelsels, internasionale handel en ekonomiese ontwikkeling.

“Laastens werk ek aan ʼn openbare gemeenskapsbetrokkenheidsprojek oor geskiedenis, kultuur, tradisies, politiek en ontwikkelingsdialoë in Afrika.”

Hy beskryf die beroep van akademikus as ʼn een-tot-een-korrespondensie met die toestand en aktiwiteite van jou gedagtes.

“Die kantoor leef dus die hele tyd in jou gedagtes en jou gedagtes in die kantoor. Natuurlik is dit in daardie sin moeilik om jou gedagtes af te skakel, aangesien enige waarneming of bespreking tot nuwe werk, ʼn nuwe stel vrae, of navorsingsagenda aanleiding kan gee.

“Wanneer ek nie enige vrye tyd het nie, maak ek tyd om saam met my gesin en geliefdes te bestee. In daardie tydjies doen ek ʼn menigte goed – insluitend tradisionele Ghanese etes kook; musiek speel en dans (wat my aan my dae as ʼn platejoggie herinner); nalees oor onderwerpe soos geskiedenis, toegepaste fisika en toegepaste biologie; en basketbal, sokker en tafeltennis saam met my seuns speel.”

Tydens sy termyn by die USB tot dusver was daar verskeie persoonlike en professionele hoogtepunte.

“Die ryk intellektuele diskoers wat altyd in die gange en by seminare heers, van my tyd as ʼn doktorale student af, byvoorbeeld. Of die persoonlike gevoel van behoort aan ʼn familie mense met ʼn gemeenskaplike doelwit, naamlik die ondersoek van die samelewing se manier van doen, ten einde die mensdom op te voed, te verbeter en te laat voortbestaan.

“Die Matie-identiteit en -verbondenheid is nog ʼn voorbeeld. Die band tussen Maties wat mekaar by ʼn wêreldwye konferensie raakloop, is altyd vir my hartroerend en verblydend.”

- Deur Steyn du Toi -