Matiestemme

Stuart Taylor

Alumnus van die Fakulteit Natuurwetenskappe


“Ek sien uit om ons unieke Suid-Afrikaanse perspektiewe na al die uithoeke van die wêreld te neem.”

Hy is veral bekend as aanbieder van SABC 3 se gewilde reisprogram Going Nowhere Slowly, maar in sy Matie-dae was die komediant Stuart Taylor ’n BSc-student. “Ek was gek daaroor om vir my BSc-graad te studeer en ek is steeds lief vir die natuurwetenskappe. Selfs terwyl ek studeer het, was ek redelik seker ek gaan nie ’n loopbaan daarvan maak nie, maar dit was nogtans lekker om van fisiologie en dierkunde te leer.” Hy was buigsaam en oop vir nuwe geleenthede en in Januarie vanjaar was dit al 18 jaar sedert hy sy brood en botter verdien deur komedie vertonings op die verhoog. Hy is egter ook ’n vervaardiger, regisseur en skrywer.

In die winkel lê sy boek Learner Husband en sy DVD knus tussen die werk van Chris Rock en Eddie Izzard ingedruk, en dit stem hom duidelik opgewonde oor sy loopbaan: “Ek sien uit om ons unieke Suid-Afrikaanse perspektiewe na al die uithoeke van die wêreld te neem. As ’n verhoogkunstenaar wil ek deur meer lande gaan toer en as ’n vervaardiger wil ek dit wat ons hier het, na die res van die wêreld begin uitvoer, maar ek wil ook van my gunsteling- lewendige uitvoerings na Suid-Afrika toe bring.”

Om voortdurend met nuwe idees op te kom en mense te laat lag kan ’n uitdaging wees, maar Stuart sê sy inspirasie kom van binne. “My werk is om my ervarings en die menslike toestand te bekyk en die spot daarmee te dryf. Om mense hulle eie situasies en ervarings as lagwekkend te laat sien.” Hy gebruik ook graag maatskaplike kwessies en bekyk dit op ’n alternatiewe manier.

Hy erken dat hy net aangename herinneringe aan sy studentedae oorgehou het. Dit is waar hy sy vrou, Elisca, ontmoet het, en hy onthou hoe hy klippies teen haar koshuisvenster gegooi het om haar aandag te trek. “As jy nie die koshuiservaring van Stellenbosch gehad het nie, het jy eintlik net die helfte van die ervaring gehad, dis as jy my beskeie mening vra. Dit was regtig ’n groot gemeenskapsbelewenis.”

Stuart moedig studente aan om elke oomblik te geniet. “Jou tyd gaan verby vlieg. Gryp die kans om een van die mooiste plekke op ons planeet te geniet. Gaan soen daardie meisie in “Die Laan”, neem lang wandelings met die paadjies langs teen die berg op agter Coetzenburg, en stap stadig op en af in Victoria-straat totdat daar ’n akker op jou kop beland. Die belangrikste is… As jy onseker voel oor jou kursus, verander dit. Daar is niks verkeerd daarmee om op 18 nog nie presies te weet wat jy met die res van jou lewe wil doen nie.”

Hy glo dat ten spyte van die veranderings wat by die Universiteit Stellenbosch moet plaasvind, die instelling steeds een van Suid-Afrika se sentra van akademiese uitnemendheid sal bly.

- Deur Elbie Els -