Afrigters opgewonde oor standaard van spelers

Die Steinhoff Maties Hokkieklub het onlangs sy groepe vir die 2015-seisoen aangekondig en volgens die afrigters van beide spanne is die standaard van spelers selfs nog hoër as vorige jare.

Dit is baie groot seisoen vir veral die vrouespan. Jenny King (breier) en haar span het drie titels – Varsity Hokkie, USSA en Westelike Provinsie Groot Uitdaagliga – om te verdedig. King werk met ‘n ekstra groot groep omdat nie almal wat in die liga speel ook Varsity Hokkie kan speel nie, soos nasionale speler Illse Davids. “Die standaard van die skole-spelers word elke jaar beter. Ek glo dat ons met die huidige groep spelers weer groot sukses sal behaal,” het King gesê.

Die manspan het ook verlede jaar die WP Groot Uitdaagliga gewen, maar afrigter Neville Rothman wil graag sien dat sy span vanjaar goed vertoon by die USSA-toernooi. Maties het verlede jaar ‘n teleurstellende vyfde plek geëindig. Die diepte en standaard van die mansgroep is ekstra goed vanjaar. Die klub het die grootste inname van nasionale o.18/19-spelers sedert 2005.

Vir Rothman is een van die grootste uitdagings die seisoen konsekwentheid. “Ons moet groot verbeteringe aanbring ten opsite van ons tegniek en om week na week goed te speel. Ons moet ‘n begeerte wys om beter te wees as voorheen en nooit oorgerus raak nie!”

 

 

This entry was posted in Club. Bookmark the permalink.