Wingerd- en Wynkunde

Hierdie omgewing is uniek aangesien dit die enigste Suid-Afrikaanse universiteit is waar nagraadse studie in wingerd- en wynkunde, asook wingerd- en wynbiotegnologie aangebied word.

Wingerdkunde

Navorsing fokus hoofsaaklik op wingerdfisiologie, ekofisiologie van korrelrypwording en presisiewingerdbou, insluitende afstandswaarneming. "Terroir", waarin druifkwaliteit in verband gebring word met die spesifieke wynstyl, word geïntegreerd benader. Tafeldruifkultivars word as 'n belangrike produksierigting in Suid-Afrikaanse wingerdverbouing behandel. Die verbetering van wingerdmateriaal deur middel van somatiese embriogenese as deel van genetiese transformasies, of met die oog op virusreiniging, vorm 'n bykomende, omvattende fokusarea.

Wynkunde

Ons ondersoek die invloed van verskeie wynbereidingsprosesse, onder andere reduktiewe behandeling van witwyn en gekontroleerde suurstoftoedienings. Die invloed van wyngiste en melksuurbakterieë op wynaroma en die interaksies tussen die organismes word bestudeer. Die fenolisekomposisie van die druiwe en die impak daarvan op die wyn word ook ondersoek. Veroudering van wyn word bestudeer en geëvalueer ten opsigte van die chemiese profiel van die wyn. Alle navorsing het ten doel om die verskillende aspekte wat bestudeer word in konteks met die samestelling, styl en kwaliteit van die wyn te plaas.

Wingerd- en wynbiotegnologie

Die Instituut vir Wynbiotegnologie fungeer interfakultêr en aanvaar studente met 'n verskeidenheid relevante, akademiese agtergronde. Die navorsing behels deurgaans die ontginning van nuwe kennis oor druifplante, wyngiste en -bakterieë, asook die genetiese verbetering van hierdie wyngeassosieerde organismes. Nuwe kennis aangaande wynbederf, veral die bekamping van die veroorsakende mikroörganismes met behulp van natuurlike antimikrobiese middels, word ook nagestreef. Moderne molekulêre benaderings, veral gebaseer op geïntegreerde en hoëdeurvloei-omika-tegnologieë, asook gevorderde analitiese hulpmiddels soos infrarooispektroskopie, HPLC en GC-MS, word ingespan in multidissiplinêre navorsingsprojekte, wat dikwels in spanverband aangepak word.

Die doel van al ons navorsing is om volhoubare, omgewingsvriendelike en koste-effektiewe produksie van hoëkwaliteitdruiwe en -wyn te verseker.

Nagraadse kwalifikasies

HonsBSc (Wynbiotegnologie) (kursuswerk)

MScAgric in Wingerdkunde, Wynkunde of Wynbiotegnologie (kursuswerk, navorsing)

PhD (navorsing)

DSc (navorsing)

Vir meer inligting:

Tel.: +27 (0)21 808 3770

E-pos: Programkoördineerder

Webwerf: http://www.sun.ac.za/afrikaans/faculty/agri/viticulture-oenology/Pages/default.aspx

Instituut vir Wynbiotegnologie

Tel.: +27 (0)21 808 3770

E-pos: Programkoördineerder

Webwerf: http://www.sun.ac.za/english/faculty/agri/wine-biotech