Ingenieurswese

Ingenieurswese bied uitstekende loopbane vir mans en vroue. Professionele ingenieurs is in die eerste plek gemoeid met die vooruitgang van tegnologie deur innovasie, kreatiwiteit en verandering. Hul werk vereis oorspronklike denke en 'n goeie oordeelsvermoë, en fokus op mense en tegnologie.

Die vierjarige Baccalaureus in die Ingenieurswese-programme (BIng) rus jou toe met 'n breë kennisbasis. Al die studente neem dieselfde verpligte vakke in die eerste jaar en begin dan in hul tweede jaar spesialiseer in die rigting waarin hulle verder wil studeer. Omdat die eerste studiejaar van al die BIng-programme grootliks ooreenstem, kan studente wat al die eerstejaarsmodules in hul eerste studiejaar slaag, na enige van die ander BIng-programme aan die begin van hul tweede studiejaar oorskakel. In die eerste twee jaar word 'n fondament van wiskunde en die natuur- en ingenieurswetenskappe gelê, en in die derde en vierde jaar leer jy hoe om jou kennis toe te pas om tegniese en besigheidsgeleenthede te ontgin. Met dié breë kennisbasis kan BIng-gegradueerdes 'n groot verskeidenheid betrekkings volstaan in die ingenieursbedryf én daarbuite. Hulle is dikwels entrepreneurs en stig en bestuur hul eie maatskappye.

   Professionele akkreditasie en internasionale erkenning

Ons Die BIng-programme is almal deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese (ECSA) geakkrediteer, wat vir ons gegradueerdes toegang gee tot registrasie as Professionele Ingenieurs ná verwerwing van toepaslike ondervinding in die praktyk. Ingevolge die Washington Accord word ons BIng-grade ook in verskeie lande in die wêreld erken, soos Australië, Kanada, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika, om 'n paar te noem.

   Onderrigtaal

Die Universiteit het in 2021 'n nuwe taalbeleid aanvaar vir implementering vanaf 2020. Die Taalbeleid beoog om uitvoering te gee aan artikel 29(2) van die SuidAfrikaanse Grondwet en aan die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020) wat betref taalgebruik in die Universiteit se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste. Die Beleid beoog om billike toegang tot die US vir alle studente en personeellede uit te brei, meertaligheid én waardering vir meertaligheid te bevorder, en pedagogies verantwoordbare leer en onderrig te fasiliteer. Sonder om uit die oog te verloor dat die US ook gemeenskappe oor die vasteland en die wêreld heen bedien, verbind ons onsself tot meertaligheid deur die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa, te gebruik.

Besonderhede van die voorgraadse taalaanbod in die BIng-programme kan via die Fakulteit se webwerf gevind word. 

Alle nagraadse programme word in Engels aangebied.

   Toelating en keuring

Die minimum toelatingsvereistes en die keuringsproses vir alle BIng-programme - ook vir die verlengdekurrikulumprogramme - is hier verkrygbaar.

   BIng-verlengdekurrikulumprogramme

Verlengdekurrikulumprogramme is ingestel om studente met onderrigagterstande te help om die BIng-programme te bemeester. Hierdie verlengdekurrikulumprogramme bied 'n alternatiewe toegang tot die programme in die Fakulteit Ingenieurswese.

'n Verlengde kurrikulum vereis een bykomende jaar van studie, wat die leerplan van die vierjarige graadprogramme voorafgaan. Studente wat hierdie ekstra jaar suksesvol voltooi en aan sekere addisionele voorwaardes voldoen, word toegelaat om met die kurrikulum van die vierjarige graadprogramme van die Fakulteit Ingenieurswese voort te gaan.

'n Mens kan nie direk aansoek doen om toelating tot 'n verlengdekurrikulumprogram nie, maar moet vir 'n vierjarige BIng-program aansoek doen. Aansoekers sal outomaties vir toelating tot 'n verlengdekurrikulumprogram oorweeg word indien hulle aan die toelatingsvereistes vir die verlengdekurrikulumprogramme voldoen.

   Minimum toelatingsvereistes vir verlengdekurrikulumprogramme

  • ’n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) met toelating tot baccalaureusgraadstudie, of ’n vrystellingsertifikaat van die Matrikulasieraad
  • ’n Gemiddelde van minstens 60% vir die NSS of toepaslike skooleindeksamen
  • Wiskunde 60%
  • Fisiese Wetenskappe 50%

Taalpunte wat aan een van die volgende vereistes voldoen:

  • Engels Huistaal 50%, sonder enige Afrikaanse vereiste OF
  • Engels Eerste Addisionele Taal 60%, sonder enige Afrikaanse vereiste OF
  • Engels Eerste Addisionele Taal 50% EN Afrikaans Huistaal 50% OF
  • Engels Eerste Addisionele Taal 50% EN Afrikaans Tweede Addisionele Taal 60%
  • Afgesien van bostaande vereistes word aansoekers ook volgens keuringskriteria gekeur, soortgelyk aan die vierjarige BIng-programme.

   Navrae

Kliëntedienssentrum

Tel: 021 808 9111

Faks: 021 808 3822

E-pos: info@sun.ac.za

Webwerf