Jerobiam, wat in 2018 sy MSc in Landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, het in 2020 by die Duitse maatskappy R-Biopharm aangesluit. Hy vervul die dubbele rol van internasionale verkoopsbestuurder en verteenwoordiger en sakeontwikkelingsbestuurder vir die Midde-Ooste en Noord-Afrika.
"Die pos is in my finale jaar van my MSc geadverteer. Aanvanklik was ek onseker of ek daarvoor moet aansoek doen, aangesien ek nie die nodige ondervinding in verkope gehad het nie. Gelukkig, toe ek na die kriteria kyk, het ek besef dat ek oor sekere eienskappe beskik wat die maatskappy soek. Ek het toe besluit om die kans te waag en aansoek te doen,” sê hy.
Die vasberade Jerobiam, wat nog altyd alles nagestreef het wat hy uit die lewe wou hê, maak nie saak hoeveel van 'n uitdaging dit is nie, het bygevoeg: "'n Mens moet oop wees vir verskillende werksgeleenthede en nie net gefokus bly op daardie spesifieke werksgeleentheid wat jy nog altyd in gedagte gehad het nie. Die lewe het my op 'n mooi manier geleer dat jy nie noodwendig opeindig waar jy aanvanklik gedink het jy sou nie. Maar dit beteken nie dat jy nie in staat is om die beste te maak van daardie nuutgevonde geleentheid nie. Soms is so 'n geleentheid jou voorland omdat jy oor sekere sterk eienskappe beskik waarvan jy nooit eintlik bewus was nie.”
Hy sê hy put groot genot daaruit om vir 'n maatskappy soos R-Biopharm, wat 'n verskeidenheid analitiese dienste en oplossings vir kliniese diagnostiek, kos, voer en voedingsorg bied, te werk.
"Ek geniet die wetenskap agter die oplossings wat ons bied en om my perspektief te verbreed deur met mense uit verskillende agtergronde te kan werk. Ek is dankbaar en gelukkig dat ek tot voedselveiligheid kan bydra. My posisie daag my uit om aanpasbaar te wees en strategies te dink. Alhoewel dit soms uitdagend kan wees, geniet ek dit omdat my lewensreis ook een van veerkragtigheid is."
Jerobiam skryf sy huidige sukses toe aan sy nederige begin in die werksplek.
"Ek het kort ná my MSc as 'n intern by 'n wynproduserende fasiliteit in Stellenbosch ingeskryf, waar ek gehelp het met die chemiese- en gehaltebeheer van wyn. Die produksie van wyn, veral in die oesseisoen, lei gewoonlik tot lang ure se werk. Dit het my geduld geleer en om toegewyd te bly tot 'n einddoel. Ek het ook administratiewe werk vir Matie Gemeenskapsdiens (Sosiale Impak) verrig. Dit het my voorberei om met mense van verskeie hiërargieë en agtergronde te werk – ’n kritieke aspek van my huidige posisie wat meesal draai om die bou en instandhouding van verhoudings."
Hy sê dat sy studies aan die Universiteit Stellenbosch ook sy passie vir mense en verhoudings, asook sy dapper en outentieke benadering tot die lewe, aangevuur het.
"Ek het my talente uitgeleef as lid van die Universiteitskoor, en dit het ook daartoe gelei dat ek kon reis en meer van die wêreld kon sien. Ek het lewenslange vriende ontmoet wat aansienlik tot my welstand bydra. Die belangrikste is dat die universiteit my toegelaat het om uit te vind wie ek is en wat ek tot die wêreld kan bydra."
Jerobiam, wat in die Weskusdorpie Darling grootgeword en aan die Sekondêre Skool Schoonspruit op Malmesbury gematrikuleer het, loop inderdaad 'n suksesvolle pad. Maar hy erken dat hy dit nie op sy eie kon doen nie.
"Darling is 'n klein dorpie wat baie maatskaplike euwels in die gesig staar. Maar ek was gelukkig dat my ouers altyd die belangrikheid van harde werk, fokus en individualiteit by my ingeboesem het. Ek is oneindig dankbaar vir hul liefde en ondersteuning," sê hy.
SLUIT AAN by YAP op Maties Connect
http://www.matiesconnect.com
ONS HOOR GRAAG VAN JOU
Is jy een van ons jong alumni wat 'n verskil maak? Kontak ons gerus by alumni@sun.ac.za om nuus oor jou persoonlike of professionele prestasies en suksesse te deel.