“You never actually own a Patek Philippe. You merely look after it for the next generation.” Hierdie is die horlosiemaatskappy, Patek Philippe, se slagspreuk. Dit het my aan ons huis, Majuba, laat dink. Majuba besit jou vir ‘n kort tydjie tot jy weer plek maak vir die volgende generasie se inwoners.
My naam is Rocco van Velden en 2020 is my en my tweelingbroer, Wouter, se eerste jaar in Majuba. Ons is die gelukkiges – tweede-generasie Majubane.
Die eerste generasie in ons familie was tokkelokke (predikante). My pa, Wouter van Velden, was in Majuba vanaf 1989 – 1994 en sy ouer broer, Ryk van Velden, vanaf 1978 – 1982. My pa het dikwels oor sy universiteitsdae en verblyf in Majuba gepraat. Later het ek besef, vir hom is Majuba nie net herinneringe nie, maar ook ‘n tydperk van ware grasie.
As tweede generasie, het ons nie die tradisie van predikant voortgesit nie; wiskunde en ingenieurswese was ons keuses. Hoewel COVID-19 ons verblyf na die eerste kwartaal kortgeknip het, het ons nietemin besef, dis meer as net ‘n plek om te bly. Dis ‘n ervaring en ‘n lewenspad.
En met geesdrif, pas ons Majuba vir die volgende generasie op. Majuba vorm jou; terseldertyd skep jy vorm aan Majuba. So kan ons jonger broer oor drie jaar en hopelik eendag, ons seuns, deel hê aan Majuba se nalatenskap.
Wat ‘n voorreg dat ek en my broer hierdie ervaring met ons pa en oom kan deel. Hopelik sal hierdie Van Velden-tweeling se name ook in Haak en Steek se hoekkamerkas opgeteken word!
Ten slotte, hulle sê jy sal gelukkig wees in enige van die koshuise op kampus. Seker maar waar vir mans in ander koshuise, want hulle’t nie die geleentheid om dit met Majuba te vergelyk nie …