Die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge het die geleentheid aangebied ter verstewiging van die verhouding tussen die dorp en die Stellenbosse sakegemeenskap.
’n Aantal dekane het ook die geleentheid bygewoon.
Volgens Naudé het die voormalige voorsitter van Apple se direksie, John Sculley, in 1989 opgemerk dat met die oorgang van die nywerheidsera na die inligtingsera, “kennis, individuele innoveerders en inligting” die wêreld se kern- ekonomiese hulpbronne geword het.
Destyds het Sculley die Verenigde State beskou as ’n nasie wat bo sy vermoë leef. Stagnante organisasies en bedryfswyses het die land se vermoë om die waarde te skep wat groei kan volhou, doodgesmoor. Waardeskepping sou afhang van die bevordering van innovasie, wat op sy beurt die herontwerp van organisasies se innovasieprotokol sou noodsaak. Dit sou beteken dat belyning en samewerking tussen die sakesektor en hoër onderwys ’n sentrale pilaar moes vorm.
Kyk jy in vinnige aksie vorentoe na die Suid-Afrika van 2019 is hierdie onderwerp weer in die kollig, sê Naudé.
Naudé verwys na die verhouding tussen die sakesektor en hoër onderwys as ’n vaal en eentonige huwelik.
“Die partye woon saam en vertrou op mekaar vir ekonomiese en intellektuele steun, maar terselfdertyd lyk dit of hulle verskillende rigtings inslaan, elkeen onbewus van wat die ander doen.”
Hy meen daar is werklike waarde in langtermyn- wedersyds voordelige vennootskappe waaruit sowel besighede as universiteite voordeel kan trek vanweë finansiële en intellektuele uitruil.
Naudé glo in Stellenbosch deel besighede en die hoëronderwyssektor ’n belang in die dorp, wat dit ’n plek maak waar intellektuele kapitaal in ekonomiese kapitaal omgeskep word met die oog daarop om wêreldwyd verandering te bring.
Daar is besigheidswaarde in intellektuele navorsing wanneer maatskappye enersyds universiteite se hulpbronne gebruik om tersaaklike onderwerpe te ondersoek, wat kan wissel van hoe die Vierde Nywerheidsrevolusie die landbou beïnvloed tot ontwrigtende gevolge in die FinTeg-wêreld. Andersyds het universiteite die materiële, menslike en institusionele hulpbronne om werklike, bestaande en toekomstige besigheidskwessies te ondersoek.
In die kennisekonomie bekom hoër onderwys werklike waarde wanneer diegene wat aan universiteite studeer, die werksmark betree. Besighede moet egter verder in hul werksmag belê deur die lewenslange leergeleenthede wat aangebied word, te ontgin.
Lewenslange leer en voortgesette opleiding in tegnologie- en besigheidsbestuur lewer ’n lewenskragtige en ingeligte werksmag wat tot innovasie, mededingende voordeel en maatskappywins bydra.
Waarskynlik die mees blywende waarde in sake- en universiteitsvennootskappe, voeg Naudé by, lê in die strewe om lewenskragtige gemeenskappe te bou.
Die US is nie alleen ’n sterk ekonomiese bydraer tot die dorp Stellenbosch nie, maar is ook ’n aktiewe veranderingsagent deur gemeenskapsontwikkeling en -uitreik. Vennootskappe wat korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid betref, lewer nie net belastingvoordele op nie, maar bou ook stewiger gemeenskappe, wat ’n opgevoede burgerlike samelewing met ’n sterk stem huisves.
Aan die een kant, kan ’n verhouding met ’n universiteit oor baie jare innoverende navorsingsprojekte en produkte, vaardige werknemers, en filantropiese geleenthede vir besighede oplewer.
Aan die ander kant kan universiteite voordeel trek uit hul studieaanbod en navorsingspogings met werklikewêreld-uitdagings en -probleemoplossing. Dit is moontlik wanneer al twee partye hulpbronne, tyd en kapitaal belê, terwyl vertroue deur konsekwente kommunikasie en positiewe interaksies tot stand kom.
“Albei partye moet mekaar voortdurend die hof maak deur gedeelde belangstellings te vind, toekomsplanne te bespreek, en gesamentlike suksesse te vier,” het Naudé ter afsluiting gesê. - Nicholas Dietrich en Anneke Müller
Foto-onderskrif: Prof Piet Naudé, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool. (Fotograaf: Ameer Saban)