Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2019

Hierdie jaar maak die Kistefos Geleentheidbeursfonds-program dit vir ses studente uit die Oos-Kaap moontlik om skuldvry aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer.

Met ’n fokus op die sosiale, gesondheid- en onderwyssektor, was die SPF die afgelope 31 jaar ’n groot bydraer tot ontwikkeling in die Oos-Kaap. Sy visie is om maniere te ontwikkel om arm en minderbevoorregte individue en gemeenskappe se lewensgehalte fisiek, sosiaal en ekonomies te verbeter.

“SPF en Kistefos wil die opleiding van môre se leiers oor ’n wye spektrum loopbane bevorder,” sê die projekkoördineerder, mnr Luke Baisley.

Die Kistefos Geleentheidbeursfonds-program het verlede jaar as ’n afskopprogram met ses studente by Rhodes Universiteit begin. In 2019 het ses studente aan die US deel van die projek geword.

Die program se doel is om tot 24 jong toekomstige leiers oor die volgende ses jaar te ondersteun. Die kandidate is almal uit die Oos-Kaap en word op grond van akademiese uitnemendheid, leierskapeienskappe, gemeenskapsdiens en finansiële behoefte gekies.

“Die studente vorm alumnigroepe wat saamwerk aan gemeenskapsdiensprojekte terwyl hulle op universiteit is. Só kan hulle vriendskappe ontwikkel wat in die toekoms handig te pas sal kom. Die doel is om standhoudende verhoudings te vorm waarby Suid-Afrika in die toekoms sal baat,” voeg mnr Baisley by.

By die US ondersteun die Kistefos Geleentheidbeursfonds-program tans vier studente wat medies, een student wat arbeidsterapie en een student wat ingenieurswese studeer. Daar is vyf vroue- en een manstudent. Beurse dek alle koste behalwe onderrigfooie.

“Die beurs vul die gaping vir dié studente wat finansiering kan kry om die akademiese sy van hul opleiding te dek, maar nie hul leef- en studiemateriaaluitgawes nie – wat net so belangrik is vir mense om gemaklik te kan studeer en sukses te behaal,” verduidelik mnr Baisley.

Gegrond op suksesvolle verhoudings hierdie jaar, is die uiteindelike plan om teen 2021 die aantal studente wat by die US ondersteun word, tot 12 te vermeerder. Daarna sal dit geleidelik afneem totdat die laaste student die universiteit verlaat.