Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2019

Dit sluit ook die Universiteit van Minnesota in die VSA, die Malawi Universiteit van Wetenskap en Tegnologie en and Land O'Lakes International Development in. Laasgenoemde is die nie-winsgewende been van die kommersiële Forbes 200 landboumaatskappy Land O'Lakes.

Befondsing vir die vyfjaar projek beloop 5 miljoen dollar, en is in Desember 2018 deur die Foundation for a Smoke-Free World (FSFW) toegeken. Die eerste beplanningsessie tussen die vennote vind in Mei 2019 by die Universiteit Stellenbosch plaas.

Volgens 2016-syfers is Malawi die dertiende grootste produsent van tabak wêreldwyd. Dis daarby die land ter wêreld wat se ekonomie die nouste verweef is met tabakboerdery. Malawi verdien 59% van sy totale inkomste uit tabakverwante uitvoere. By die 32% van die land se mense is betrokke by die verbouing van hierdie gewas.

Kenners meen dat veranderinge in die gebruik van tabakprodukte wêreldwyd op die langtermyn die Malawiese ekonomie beduidend kan beïnvloed. Volgens die M-CAT-vennote oefen tendense wêreldwyd rondom tabakmarkte, gesondheidskwessies en omgewingsdruk reeds druk uit op die Malawiese bedryf. Daarom sien die regering die nodigheid om die ekonomie te diversifiseer en om die land se afhanklikheid van tabak as grootste buitelandse valutaverdiener te verslap. Dit is daarom nodig om nuwe opsies en markte binne die landboubedryf te ondersoek en te identifiseer.

"Tabakboerdery het nog nooit kleinboere uit armoede gelig nie. Ons hoop om hoogstaande data in te samel en te analiseer, sodat die inligting wat daarin vervat is gebruik kan word om effektiewe beleid te help skryf en hulpbronne sinvol in te span. Ons hoop dit help om Malawi se ekonomie uit te brei, en die land minder afhanklik te maak van tabak. Hopelik sal boere in die proses beter voorbereid wees op toekomstige veranderinge. Ons hoop om die land se ekonomie te help versterk," het die M-CAT vennote gesê.

"Ons wil deur die M-CAT-projek voorkomend probeer optree. Ons is 'n sterk netwerk van vennote wat wil saamwerk om Malawiese boere te help om alternatiewe gewasse te vind wat steeds winsgewend uitgevoer kan word. Sodoende sal die land steeds allerbelangrike buitelandse valuta kan verdien," verduidelik prof Danie Brink, dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe, verder.

Al die vennote is vertroud met Malawiese kondisies. Die Universiteit van Minnesota het byvoorbeeld onlangse tabakverwante navorsing gedoen, terwyl 'n aantal Malawiese nagraadse studente die afgelope paar jaar grade aan die US ontvang het. Land O' Lakes International Development werk reeds die afgelope twintig jaar in die land. Dit het onlangs met 'n Malawiese tabakmaatskappy danksy die MSIKA-projek kragte saamgesnoer. Daardeur word sowat drieduisend kleinboere met raad en daad ondersteun oor hoe om hoë-waarde gewasse te begin plant.

Die Universiteit Stellenbosch sal die wetenskaplike en tegnologiese bene van die M-CAT projek ondersteun. Relevante landboukundige, meteorologiese en geologiese data wat in Malawi ingesamel word sal deur navorsers van die Departement Landbou-Ekonomie analiseer word. Die US sal hierin ondersteun word deur die Universiteit van Minnesota. Die Innovation Launch Lab van die US sal help met tegnologie-oordrag in die Malawiese landbousektor, en die stimulering en ondersteuning van nuwe idees wat geïdentifiseer word.

Volgens prof Brink sal die inisiatief aan meer Malawiese studente die kans gee om aan die US te studeer. Hulle sal aanvanklik navorsing doen oor die Malawiese landbou-ekonomiese aangeleenthede en verwante velde. Dit sal uitgebrei kan word sodra spesifieke gewasse en produkte geïdentifiseer is wat geskik kan wees om die Malawiese ekonomie te ondersteun.

"Studente sal ook kans kry om 'n paar maande lank by een van ons vennootinstelling, die Universiteit van Minnesota, te spandeer," verduidelik prof Brink. - Engela Duvenage

Foto-onderskrif: Prof Danie Brink, dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe.