Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2019

Tot op hede is meer as R1 miljoen in skenkings en goedere ingesamel en R500 000 se nie-bederfbare items is sedert September verlede jaar aan behoeftige studente via die US se Sentrum vir Studentevoorligting en –ontwikkeling versprei.

US-rektor en visekanselier, Prof Wim de Villiers, het al op verskeie maniere sy steun vir hierdie veldtog getoon. In Maart vanjaar het prof De Villiers en 'n span van 27 alumni, personeel en vriende van die Universiteit, die Kaapstadse Fietstoer, die wêreld se grootste tydrenfietswedloop, aangepak om geld vir #Move4Food in te samel. Dit was die derde keer dat De Villiers vir 'n verdienstelike saak gesweet het. In Maart 2018 het hy ook die Kaapstadse Fietstoer voltooi om die Universiteit se Eeufees te herdenk en geld vir studentebeurse in te samel en in September verlede jaar het hy die volle 42,2km Sanlam Kaapstad gehardloop om weereens geld vir #Move4Food in te samel.

Ook deel van die Maties-span wat die Kaapstadse Fietstoer aangepak het was studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die Tygerbergkampus wat verlede jaar al die pad van Vioolsdrift op die Namibiese grens tot by Kaap Agulhas – 'n afstand van 902 km – fietsgetrap het ter ondersteuning van #Move4Food. Die groep – bestaande uit Breda Reed, Mias Marais, Luke Titus, Christoff Greyling en Wonderboy Nkosi – het op dié tog meer as R59 000 ingesamel. Jy kan hulle nog steeds ondersteun deur hier te skenk: https://www.givengain.com/a/hippocampusfund/.

Volgens Candice Egan, Ontwikkelingsbeampte binne die Onwikkelingskantoor, is daar 'n aantal fondsinsamelingsgeleenthede wat vir die res van 2019 beplan word. "Vroeër vanjaar het ons studente en Lift Nutrition saamgespan en 'n suksesvolle "Fitness Fest" by Coetzenburg ten bate van die #Move4Food-veldtog aangebied. Dan sal ons later vanjaar weereens by die Sanlam-Kaapstadse Marathon teenwoordig wees.

"Ek moedig personeel, alumni, studente en vriende van die Universiteit aan om hul deel vir #Move4Food te kom doen. Jy kan hardloop met 'n liefdadigheidsinskrywing vir die 10km resies of die volle marathon aanpak en jy kan 'n veldtogkampioen word via GivenGain," het sy bygevoeg.

De Villiers het uitgewys dat 'n onlangse studie deur die Nasionale Navorsingstigting bevind het dat meer as 30% van universiteitstudente in Suid-Afrika voedselonsekerheid beleef. “Dit affekteer nie net hul akademiese uitslae nie, maar ook hul fundamentele menswaardigheid. Die #Move4Food-inisiatief geniet my volle steun, en ons sal bykomende hulp baie waardeer."

Wil jy graag betrokke raak? Kontak gerus vir Candice Egan by eganc@sun.ac.za.

 

Wat beplan ons?

  • Fit Fridays wat in Julie begin.
  • Geleenthede met studentegemeenskappe.
  • Derby-dag
  • Sanlam Kaapstadse Marathon

Ons hou jou op hoogte!