Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2019

“The quality of mercy is not strained.

It droppeth as the gentle rain from heaven

Upon the place beneath. It is twice blest:

It blesseth him that gives and him that takes.”

— Portia, in William Shakespeare, The Merchant of Venice

 

Oor die afgelope paar maande het ons by die Universiteit Stellenbosch (US) met moeilike kwessies te kampe gehad en ons die toorn van personeel, alumni, skenkers en die publiek in die algemeen op die hals gehaal, hoofsaaklik vanweë navorsing in emosioneel gelade rigtings wat in die media die status van “die Universiteit” se posisie of mening gegee is.

Met hierdie bondige stelling moet jy nie aanvaar ek sug eenvoudig oor ’n “moeilike dag op kantoor” nie. Ek probeer nie die opskudding, pyn, woede en verwarring wat die gepubliseerde navorsing veroorsaak het, negeer nie. Ook nie die motivering daarvoor nie. Glad nie. Die afgelope paar maande was vir ons almal pynlik.

Die artikel “Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women” (ouderdoms- en opvoedingsverwante effekte op kognitiewe funksionering by Bruin Suid-Afrikaanse vroue) is in ’n internasionale wetenskaplike tydskrif oor normale en disfunksionele ontwikkeling, Aging, Neuropsychology, and Cognition, gepubliseer. Die redakteurs en uitgewers van die tydskrif, in oorleg met die outeurs, het sedertdien dié artikel onttrek. Die US het die stap sterk ondersteun, soos aangedui in ’n mediaverklaring wat op 3 Mei 2019 uitgereik is.

As ’n instelling erken ons dat die betrokke artikel aanstoot gegee het en die waardigheid van mede-Suid-Afrikaners aangetas het. In ’n amptelike mededeling aan personeel en studente op 30 April 2019, wat ook aan die media vrygestel is, het ons onvoorwaardelik om verskoning gevra vir die trauma, pyn en woede onder lede van die algemene publiek, die Stellenbosse gemeenskappe, die Universiteit se belanghebbendes, en ons kampusgemeenskap.

As ’n instelling streef die US daarna om ’n getransformeerde en geïntegreerde akademiese gemeenskap te wees wat kritiese denke vier, debat aanmoedig en demokrasie, menseregte en sosiale geregtigheid bevorder.

...

’n Oogmerk van die konferensie getiteld Recognition, Reparation, Reconciliation: The Light and Shadow of Historical Trauma (Erkenning, vergoeding, versoening: Die lig en skadu van historiese trauma) wat in Desember 2018 by die Universiteit Stellenbosch (US) gehou is, was om akademici en praktisyns bymekaar te bring om oor belangrike vrae rakende die verwondende en kwellende historiese nalatenskap van transgeneratiewe trauma te beraadslaag. Om maar ’n paar te noem: Wat is die gepaste reaksie op die eggo’s van historiese verwonding wat ver buite die generasie strek wat die trauma direk ervaar het? Watter strategieë sou die kwellende nadraai van volksmoord, slawerny, koloniale verdrukking en massageweld in die lewe van die aangetaste individue en groepe aan beide kante van hierdie dade kon temper?

Daarom is dit betreurenswaardig dat die Israeliese-Palestynse narratief na die konferensie oorgespoel het en presies die teenoorgestelde effek gehad het as wat daar met die visie vir die geleentheid gestel is, en in die proses die US en prof Pumla Gobodo-Madikizela, die voorsitter van die konferensiekomitee en die Navorsingsleerstoel vir Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit, in ’n slegte lig gestel het.

Tydens ’n vergadering op Vrydag 25 Januarie 2019 tussen verteenwoordigers van die US en die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJBD) by die Universiteit, het die gesprekke op akademiese vryheid gefokus, wat volgens ons almal omhels, aangemoedig en nooit as vanselfsprekend aanvaar moet word nie.

Die konferensie het ’n wêreldwye netwerk van vakkundiges en praktisyns bymekaar gebring om te beraadslaag oor kwessies rakende historiese verwonding en die transgeneratiewe reperkussies daarvan. Uiteindelik het vakkundiges uit Israel egter nie daaraan deelgeneem nie vanweë ’n misverstand oor pogings wat bedoel was om, in die nadraai van oproepe om die uitsluiting van Israeliese deelnemers, vrede en sekuriteit rondom die konferensie te verseker. Professor Thuli Madonsela, bekleër van die Leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg en professor aan die Fakulteit Regsgeleerdheid by die US, wat die vergadering tussen die SAJBD en die US bygewoon het, sê dit is betreurenswaardig dat dié pogings op die uitkoms, eerder as die bedoeling daarvan beoordeel is.

Professor Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het sy spyt uitgespreek dat die Israeliese akademici uiteindelik nie die konferensie bygewoon het nie en bygevoeg: “Die Universiteit Stellenbosch gaan voort om vryheid van spraak en akademiese vryheid te steun. As ’n navorsingsintensiewe universiteit van globale belang, verwelkom ons steeds akademici van oor die hele wêreld by die Universiteit Stellenbosch – waaronder geleerdes uit Israel – en doen mee aan uitstekende navorsing met beduidende maatskaplike en akademiese impak.”

Die US bied elke jaar verskeie vakkundige geleenthede aan wat akademici van oor die hele wêreld lok. Die Universiteit bly verbind tot die verwelkoming van vakkundiges as deel van die US se verbintenis tot internasionalisering en as ’n leidende sentrum vir hoëronderwysnavorsing.

...

Wat het ons by alumni- en skenkerbetrekkinge in beginsel uit hierdie voorvalle geleer?

  • Dat daar in almal, nie net in onsself nie, wysheid steek, ongeag ras, geloof, ouderdom, geslag, seksuele oriëntasie, nasionaliteit of rang in die samelewing. Almal beskik oor wysheid, en ons moet luister en nuuskierig daaromtrent wees.
  • Om ontvanklik vir die opvattings, menings en gedagtes van ander te wees.
  • Om onmiddellik uit te reik na diegene wat die meeste deur die voorval geraak word, sowel as na kundiges in die veld.
  • Dat daar ander opvattings en denkwyses bestaan as dié wat ons elkeen huldig en oor afleidings maak, en dat ons oorweging daaraan moet skenk. Ons moet nuuskierig wees om dit te ontdek.

Ons is almal geneig om ons eie ding te doen en eers na ons eie stem(me) te luister, eerder as om ander se wysheid en waarheid op te soek. Ek glo dat ons dit sal vind ás ons nuuskierig is en luister. Ek is so dankbaar dat ons Visekanselier ’n goeie luisteraar is – in wese ’n goedgesinde en diepsinnige man. Ek glo ook dat ons onder prof De Villiers se leiding inderdaad ’n Leerorganisasie is.

Om ’n probleem te kan oplos en prosesse te herontwerp vereis in wese dat ons die wêreld in ’n nuwe lig sien en dienooreenkomstig optree. In die afwesigheid van leer, herhaal organisasies – en individue – eenvoudig ou praktyke. Verandering bly kosmeties, en verbeterings is óf toevallig óf kortstondig.

Peter Senge, wat leerorganisasies in sy boek The Fifth Discipline gewild gemaak het, beskryf dit as plekke “waar mense voortdurend hul vermoë uitbrei om die resultate wat hul werklik begeer, te bekom, waar nuwe en uitgebreide denkpatrone ontwikkel word, waar kollektiewe aspirasie nagestreef word, en waar mense voortdurend leer hoe om met ander saam te leer”.

Hierdie onlangse voorvalle en die reaksies wat in ons Universiteit gevolg het, het gehelp om ons denke te fokus, dialoog aan te moedig en onuitgesproke, instinktief verstaanbare idees na vore te bring. 

Klink my opvattings dalk idillies? Absoluut. Maar is hierdie pynlike proses uiteindelik wenslik as ’n manier om ons almal sterker te maak? Sonder twyfel.

 

Karen Bruns

Senior Direkteur: Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge