Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2023

Alles het in 2015 begin toe Malgas, self ʼn eerstegenerasie-graduandus uit ʼn nederige agtergrond, besluit het om iets te doen om ‘hulpbronbeperkte studente’, wat klein somme geld nodig gehad het om hulle studies voort te sit, te ondersteun.

Sy verduidelik: "Ek het in ʼn eenvoudige huis in Mitchellsplein grootgeword en ek is dus deeglik bewus van die uitdagings verbonde aan by die hoëronderwysstelsel probeer inkom en daar bly. My ouers was wys en liefdevol en ek het ook die liefde en ondersteuning van my familiegroep geniet. Maar in families waar hulpbronne selfs meer beperk is, kan universiteitsopvoeding as ʼn onnodige luukse beskou word.

"Ek het goed geweet dat die klaarblyklike behoefte aan fondse iets was wat ek nie op my eie kon aanpak nie. Op Mandeladag in 2016, het ek en twee van my studente daarin geslaag om R2 500 te verdien deur suurlemoenskuimterte te bak en dit teen R67 elk te verkoop, om ʼn beurs vir ʼn behoeftige student te skep. Sommige mense het aansienlik meer betaal, toe hulle hoor wat ons probeer doen en ek het gou besef dat mense ʼn saak sal ondersteun as dit met hulle waardes ooreenstem en hulle kan vertrou waar die geld gebruik sal word."

Malgas het met ʼn kollega gesels oor die moontlikheid van ʼn groepsfinansierings-inisiatief. Die kollega het aangedui dat sy die eerste een sou wees wat dit ondersteun, as Malgas daarmee sou voortgaan. Sy het daarmee voortgegaan, en vandag is hierdie kollegas een van die Fonds se raadslede.

Malgas was in staat om groepsfinansiering vir haar inisiatief te bekom en teen 2020 het die steun vir die studente reeds eksponensieel gegroei. Sy het haar twee getrouste ondersteuners, Monika Basson en dr Ethel Phiri, US-personeellede in die Fakulteit AgriWetenskappe, genader om die organisasie saam met haar te formaliseer. Die 'Small Things'-fonds is in dieselfde jaar nog geregistreer. Twee ander raadslede, Rejeanne Louw (BA [Teologie]) en Angel Goldsmith (MSc [Bosbou]), albei US-alumni, het in 2021 aangesluit.

"Die meeste van ons is eerstegenerasie-graduandi of baanbrekers op die een of ander manier, en die meeste van ons kom uit hulpbronarm gemeenskappe. Ons weet uit ondervinding dat klein goedjies, soos ʼn koopbewys vir kos, ʼn klein leninkie of ʼn gebruikte toestel op die regte tyd, baie kan doen om akademiese sukses te verseker,” sê sy.

Volgens Malgas help hulle tussen 10 en 20 studente per jaar en van 2015 tot 2023 het hulle tot dusver amper 1 000 studente gehelp.

Sy sê dat die meeste van hulle ondersteuning aan die US en in Stellenbosch gedoen word, slegs omdat hulle fisies daar teenwoordig is. “Ons mandaat sluit universiteitstudente aan enige universiteit of enige ander geregistreerde hoëronderwysinstelling op enige plek in Suid-Afrika in,” sê sy. Die Fonds is tot die beskikking van enige student van enige ras, gender, klas, agtergrond, land, etnisiteit of geloof – solank hulle die eerste in hulle familie is wat tot ʼn hoëronderwysinstelling in Suid-Afrika toegelaat word en hulp benodig.

"Op die oomblik het ons drie skenkers wat gereeld tussen R100 en R1 000 per maand skenk. Twee hiervan is US-personeellede en die ander is ʼn vreemdeling, wat geld uit ʼn landelike gebied in die Wes-Kaap stuur. Ons het al beduidende ad hoc bydraes van tot R10 000 van die personeel en openbare skenkers ontvang. Die mees onlangse groot skenking was deur ʼn professor aan die US wat elders soortgelyke werk doen. Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning."

Malgas sê dat hulle daarna streef om ʼn tak van die Fonds op elke kampus in Suid-Afrika te vestig en om ander te besiel om ʼn soortgelyke diens te begin, waar hulle ookal hulself tussen studente bevind. Hulle droom is ook om plaaslike eiendom te besit, waar studente gehuisves kan word. "Hiervoor het ons 1 000 skenkers nodig, wat elk R1 000 skenk om grond aan te koop, en ʼn vennootskap met ʼn volhoubare behuisingskonstruksiemaatskappy in Kaapstad."

Meer oor dr Rhoda Malgas

Hierdie boorling van Mitchellsplein was van 1999 tot 2000 ʼn student aan die Universiteit van Kaapstad (UK), met argeologie en omgewings- en geografiese wetenskap as haar hoofvakke. Die twee jaar wat sy by Clanwilliam se Lewende Landskap-projek deurgebring het, het haar aan openbare argeologie en hoe dit met die skoolkurrikulums vir sosiale en natuurwetenskappe geïntegreer kan word, bekendgestel. Nadat sy ʼn beurs van die UK vir haar magistergraad in botanie onder leiding van prof Timm Hoffman ontvang het, is sy aan die Heiveld-koöperasie bekendgestel. Dit is ʼn koöperasie vir rooiboskleinboere, wat betrokke is by die volhoubare oes van wilde rooibos uit fynbosveld. Daardie ervaring, saam met haar mentorskap deur vennote in plaaslike nieregeringsorganisasies (NRO’s), het haar loopbaan in bewaring en ekologie afgeskop. Toe sy in 2009 by die US aangesluit het, het sy reeds met kleinboere, plaaslike inwoners en skoolleerders oor deelnemende leer en gemeenskaplike navorsingsmetodes saamgewerk. Tans onderrig sy sommige van hierdie beginsels aan haar studente in die Bewaringsekologie-onderrigprogram in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die US. Malgas het ook haar PhD in Bewaringsekologie in Desember 2022 aan die Universiteit Stellenbosch behaal. 

 

Skenkings in die vorm van kontant, elektroniese koopbewyse of materiaal is welkom en kan via die volgende platforms gedoen word: 

  • Kontantskenkings kan gerig word aan The Small Things Fund (K2020183890) NPC, FNB, rekeningnommer 62862294213.
  • Vir elektroniese koopbewyse (verkieslik in intervalle van R50 tot R100 vir maklike verspreiding) en materiaalskenkings, kontak die Fonds by 082 672 2750 of info@thesmallthingsfund.org.
  • Skenkings aan die langtermyn- eiendomsprojek kan gedoen word deur die skenk van R1 000 saam met die verwysing “Property”.