Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2023

Die Drie Susters-beursfonds is onlangs geloods deur Sindiswa Jamba, koshuishoof van Nemesia, Benita van Zyl, koshuishoof van Serruria en Carla Kroon, koshuishoof van Erica. Die bekendstelling van die fonds het deel gevorm van 'n reeks Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk (SWAN)-vieringe vir Internasionale Vrouedag wat op 8 Maart wêreldwyd gevier is onder die tema #EmbracingEquity. 

Volgens Jamba is die Fonds al sedert 2022 in wording toe die drie koshuishoofde die eerste keer begin koppe bymekaar sit het.

Sy verduidelik: "Die meeste manskoshuise op kampus het beursfondse en is in staat om minderbevoorregte studente in hul koshuise finansieel by te staan. Terwyl jy in die vroulike koshuise baie spensprojekte sal vind wat die dringende behoeftes van vroue aanspreek, maar nie noodwendig die koste verbonde aan studie nie. Ons het hierdie leemte geïdentifiseer en besluit om iets te doen om die finansiële las op studente wat in die drie susterkoshuise woon, te verlig. So is die Drie Susters-beursfonds gebore met die doel om die koste van kwalifiserende studente se onderrig, verblyf, etes en studiemateriaal te dek."

Hulle beplan ook dat die Fonds ander behoeftes sal dek wat nie gewoonlik raakgesien word nie, soos reisfooie tydens reses en Desember-breekperiodes en koste verbonde aan beddegoed, ens.

"Ons het geïdentifiseer dat sommige studente sukkel om hierdie uitgawes te finansier en dit moeilik vind om hulp te vra. Op die oomblik is daar geen fondse wat beskikbaar is om daarmee te help nie. Ons hoop die Fonds kan daardie gaping oorbrug," sê Jamba.

Onder die fonds word beurse toegeken aan finansieel behoeftige en akademies waardige voorgraadse studente van Nemesia-, Serruria- en Erica-koshuise wat op die Stellenboschkampus studeer. Dit sal studente insluit wat deel vorm van die "vermiste middel" (bruto huishoudelike inkomste tussen R350 000 en R600 000). Altesaam R150 000 kan in 'n bepaalde jaar aan 'n student toegeken word, afhangende van die student se finansiële behoeftes, asook die beskikbare hulpbronne. Studente moet aan die minimum vereistes vir hul akademiese program en koshuis voldoen om vir befondsing in aanmerking te kom.

Jamba sê hulle is tans in die proses om geld vir die fonds in te samel en om mense daarvan bewus te maak.

"In die verlede het die drie susterskoshuise 'n inisiatief genaamd die Koeksisters gehad om fondse in te samel. Ons beoog om daardie inisiatief te laat herleef en verder te vat. Op 4 Mei bied ons ook 'n Drie Sustersmark aan waar ons verskeie stalletjies en aktiwiteite sal hê."

Mbalenhle Shandu, prim van Erica Vrouekoshuis, beskou die Drie Susters-beursfonds as noodsaaklik en belangrik om die groeiende finansiële behoeftes van vrouestudente aan te spreek.

"Met die onlangse NSFAS-besnoeiings gepaard met hoër lewenskoste wat studente onder strenger begrotingsbeperkings plaas, is daar werklik 'n behoefte aan 'n fonds soos hierdie. Dit sal handig te pas kom en 'n groot verskil maak. Dit sal ook ons alumni die geleentheid gee om terug te kan ploeg. En soos elke susterkoshuis geld insamel vir die Fonds, gee dit ons die kans om saam te werk en breër gemeenskapsverhoudings te bou."

Sy sê uitgawes waarmee studente gewoonlik sukkel en waarmee sy hoop die Fonds hulle sal kan help, sluit in toiletware, kos, vervoer, handboeke en skryfbehoeftes.

"Dit sal wonderlik wees as die Fonds ook kan help om ruimtes in die gemeenskap te verbeter om 'n groter groep mense te verryk. In plaas daarvan om byvoorbeeld vir een persoon 'n skootrekenaar te kry, hoekom nie eerder 'n rekenaar in 'n studiegebied installeer sodat ander dit ook kan gebruik nie."

Skenkings aan die Drie Susters-beursfonds kan gedoen word deur: