Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2023

Die Shayne Martin Jacobs (SMJ) Bewaringsekologie- en Entomologiefonds is onlangs ter ere van die ontslape akademikus deur sy vrou, Monean Jacobs, 'n personeellid van die Universiteit Stellenbosch (US), en dogters dr Kim Dreyer en Danel Adams, gestig.

Prof Jacobs, wat 'n dosent en navorser in die Fakulteit Agriwetenskappe se Departement Bewaringsekologie en Entomologie was, het sy lewe begin op die plattelandse dorpie Haarlem in die Langkloof-distrik in die Wes-Kaap. Sy reis in die wetenskap het by die Hoërskool Pacaltsdorp op George begin. Daarna is hy na die US om 'n BSc te studeer wat hy in 1992 cum laude voltooi het. Dit is gevolg deur 'n navorsings-MSc wat die rol van absisiensuur in die bepaling van die droogtetoleransie van lentekoringkultivars in die Wes-Kaap van Suid-Afrika ondersoek het. Hy het sy PhD-studies aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van prof William Stock voltooi.

Prof Jacobs se filosofie vir ekologie was daarop gebaseer om onderliggende verskynsels te probeer verstaan en hierdie kennis vir die herstel van ekosisteme te gebruik. Sy fokus op die herlewing van ekostelsels was nie net 'n doel op sigself nie, maar ook 'n manier om die lewensbestaan van die armstes in Suid-Afrika en Afrika te verbeter. Maar die belangrikste motivering vir sy loopbaan in die wetenskap was om die kennis-ekonomie te verbeter, veral met betrekking tot Suid-Afrika en Afrika. Hy was dus toegewyd aan en sterk betrokke by die opleiding en mentorskap van jong swart-, bruin- en Indiërwetenskaplikes.

Volgens Monean is die idee vir die SMJ-fonds gebaseer op 'n jarelange waarneming en kommer van haar en haar man dat die aantal benadeelde en diverse studente wat in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie studeer, aansienlik minder is as in ander departemente.

"Dit het ons hartsbegeerte geword om te verseker dat meer gemarginaliseerde mense uit arm gemeenskappe by hierdie studiegebied betrokke raak. En mettertyd het dit my visie geword om te verseker dat daardie mense die geleentheid kry om te bereik wat Shayne, wat self van 'n arm en gemarginaliseerde agtergrond afkomstig was, geslaag het om te bereik."

Gevolglik sal die SMJ-fonds verdienstelike, eerstegenerasiestudente wat in die lewenswetenskappe presteer, ondersteun om aspirant-jong wetenskaplikes te word. Die Fonds beoog om koste verbonde aan 'n student se studies, soos registrasie- en verblyfgelde te dek, asook toebehore soos toerusting wat nodig is vir veldwerk en praktiese navorsing.

"Vir baie eerstegenerasiestudente, selfs dié met ’n beurs, is die koste van toebehore om veldwerk te doen dikwels moeilik om by te bring. Die Fonds beoog dus om studente toe te rus met die nodige gereedskap om hulle te help om akademies suksesvol te wees," sê Monean.

Sy sê hulle is tans besig om waardige leerlinge van skole in minderbevoorregte gemeenskappe in die Wes-Kaap te identifiseer. Diegene wat aan die kwalifiserende en toelatingskriteria voldoen, sal beurse aangebied word om met hul studies by die Departement Bewaringsekologie en Entomologie te help.

Monean huiwer effens wanneer sy gevra word wat haar man sou dink van die SMJ-fonds wat sy op die been gebring het. Dan antwoord sy: "Ek dink hy is trots op my. Ek dink hy is trots daarop dat ek voortgaan met die werk wat ons beplan het om te doen. Dat ons 'n verskil maak in die gemeenskappe waarvandaan hy kom en wat hom gevorm het en waar daar nog soveel nood is. Ek dink dit is die nalatenskap wat hy sou wou agterlaat." 

·       Vir meer inligting oor die SMJ-fonds en oor hoe jy tot die Fonds kan bydra, kontak Monean Jacobs by mwenn@sun.ac.za