Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2023

Die egpaar, albei vrywilligers by ‘n liefdadigheidsorganisasie en sopkombuise, het hul tyd daaraan gewy om skenkers vir die fonds te werf. Hulle moedig ook skenkers aan om hulle werkgewers uit te daag om enige individuele skenkings aan die fonds in rand of dollar te ewenaar. Die beurs mik om volle kursusgeld van $9 650 per jaar te werf om een suksesvolle US-student te ondersteun wat 'n honneurs- of meestersgraad aan die US wil voltooi maar nie vir staatsbefondsing kwalifiseer nie.

Smit is die hoof van finansiële instellings vir Noord-Amerika by ING Bank, wat toe die beurs gestig is ingestem het om 'n bydrae van een en 'n half tot die fonds te maak en dit nie net te ewenaar nie. "Ons moedig ander aan om hieraan deel te neem en ondersoek in te stel of daar in die maatskappye waarvoor hulle werk ook sulke programme bestaan. Dit gebeur gereeld in die VSA dat skenkers se werkgewers deur sulke programme kwalifiserende skenkingsversoeke vir liefdadigheid sal bybring tot op ’n sekere vlak."

Smit dien ook as tesourier en 'n trustee op die raad van die Friends of the University of Stellenbosch Foundation, 'n 501 (c) belastingvrye entiteit wat in die Verenigde State geregistreer is. Deur dié stigting bly alle skenkings en borgskappe belastingverhaalbaar, wat 'n wen-wen verseker, soos hy dit stel.

Hulle hoop om met die fonds ook meer geleenthede vir interns te skep. "Ek het gehoop ons kan die beurs as basis vir internskappe gebruik. As jy aan enige internasionale universiteit onder die J1-visum gradueer, kan jy VSA toe kom vir 'n internskap (onder die J1-visumprogram) en natuurlik sal dit jou fantastiese blootstelling aan die VSA en Amerikaanse maatskappye gee. Die meeste maatskappye bied 'n somer-internskap aan, nes ons ook by ING Bank.

"Die idee was om te kyk of ons een of twee mense kan bystaan om deel te word van die J1-visumprogram en ‘n internskap in die VSA te kry. Dit is nog redelik in die beginstadium, maar ek het gesien hoe baie Europese universiteite dit doen. En hoekom nie Suid-Afrika, of Stellenbosch, nie?

"Ons het soveel geleenthede deur ons opleiding gekry – dalk in ’n sekere sin op ’n bevoorregte manier, in Suid-Afrika – dat ons baie graag wil teruggee. Dit was die hoofdryfveer vir die skep van die fonds," sê Smit. Maar "drastiese veranderinge" aan die US was vir hulle 'n trekpleister.

"Ons het groot respek vir die Universiteit Stellenbosch, en die manier waarop die universiteit homself herposisioneer het om divers en inklusief te wees. Ek respekteer ook die manier waarop die universiteit gevorder het om alle gemeenskappe in te sluit. Dit was nie my ervaring toe ek daar studeer het nie. Ek is trots op die herposisionering,” sê Smit. "Baie mense praat oor diversiteit en insluiting, maar dit gebeur nie dikwels dat jy moet bewys wat jy daaraan doen nie. So dit het tyd geword dat ek ‘n bydrae lewer, op 'n manier waarop ek dit kán doen.”

"En dan is daar iets wat ek en Francois ook wil beklemtoon – ons is gay en as daardie beurs dus iemand kan help wat ’n LGBTQ-plus-oriëntasie het, sal dit vir ons baie waardevol wees. Dit was ’n tersiêre oorweging, maar dis tóg vir ons belangrik."

Conradie voeg by: "Die hier-en-daar klein bietjies geld help nie regtig nie, daarom fokus ons op Stellenbosch." Toe hulle in die VSA aangekom het, kon Conradie weens hul Groenkaart-status nie werk nie. Dit is toe dat hy betrokke geraak het by die liefdadigheidsorganisasie Broadway Cares, wat akteurs en teatermense help om behuising, mediese sorg en kruideniersware te kry, en op ander maniere hul maatskaplike sekerheid aanvul. Die egpaar spandeer weekliks tyd daar – Conradie soms twee of drie keer per week, waar hy help met enigiets van geringe take tot beplanning van geleenthede.

Conradie, 'n gekwalifiseerde rekenmeester, sê vrywilligerwerk is tans sy beroep. "Dit is so ongelooflik hoe baie vreugde jy uit vrywilligerwerk put," sê hy.

Benewens Broadway Cares doen die egpaar ook vrywilligerwerk by twee plaaslike sopkombuise. Smit voeg by: "Ons het 'n groot instroming van immigrante. Baie mense het haweloos geword tydens die inperking, so hierdie kombuise speel 'n deurslaggewende rol. Hulle kry nie geld van die staat om kos aan behoeftige mense te voorsien nie. Dit is 'n baie, baie ontnugterende en goeie ervaring."

Vir eers sien die paartjie – wat lief is vir reis – uit na ’n besoek aan sonnige Suid-Afrika. "Daar is net twee dinge wat belangrik is in die lewe: om vriende te hê en vriendskappe op te bou, en om lief te hê. Daardie dinge dryf my," sê Conradie. Vir Smit is sy strewe "beslis nie om 'n werk te hê, of om aan miljoen-dollar-transaksies te werk nie. Dit is baie, baie belangriker dat jy 'n gevoel van waarde en aanvaarding het. Dit is wat my dryf."

Besoek www.matiesalumni.com om 'n skenking aan die NY Nagraadse-beursfonds te maak