Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2023

Botha het haar MIng-graad in Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf en haar loopbaan by Sasol op Secunda begin. Sy het Sasol later vir Mossgas (deesdae PetroSA) verruil en is later na Engeland, waar sy nou reeds 20 jaar lank woon. Vir langer as ’n dekade was sy ’n konsultant en kontrakteur in die olie- en gasbedryf, maar ná haar kinders se geboorte het sy ’n ander koers ingeslaan en haar dienste vrywillig as privaat opvoeder aangebied.

Maar dié dogter van ’n Stutterheimse skaapboer wou ook graag iets teruggee. Die US se direkteur van Skenker-, Alumni- en Belanghebbendeskakeling in die Verenigde Koninkryk (VK) en Ierland het haar aangemoedig om die Hoërskool Stutterheim STEM-beurs tot stand te bring. Graad 12- dogters van Hoërskool Stutterheim wat om ’n graadprogram op die terrein van die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (“STEM”) aansoek doen, kry voorkeur in die toekenning van die beurs. Waar daar nie geskikte kandidate van dié skool beskikbaar is nie, word kandidate van ander plattelandse Oos-Kaapse skole in aanmerking geneem. "Ek wou help keer dat iemand die beroepswêreld met ’n berg studieskuld betree," verduidelik sy.

"Dis nou maar twee jaar sedert ek begin geld insamel het om in die beurs te belê. Dis nie baie groot nie – net meer as £1 000 per jaar (nagenoeg R28 000). Die suksesvolle kandidaat ontvang die beurs jaarliks totdat sy gradueer, mits sy aan die slaagvereistes van die Afdeling Beurse en Lenings voldoen.

"Dis goed om te kan teruggee aan die gemeenskap, en veral aan jong vroue uit landelike gemeenskappe in die Oos-Kaap, wat soms unieke uitdagings ervaar.” Die eerste beursontvanger is uit drie moontlike kandidate gekies. Danksy die beurs wat haar studiegeld in haar finale jaar help dek het, kon dié jong swart vrou van Qonce (King William’s Town) haar BSc in Menslike Lewenswetenskappe suksesvol voltooi.

Sy is ’n groot voorstander van diversiteit. "Diversiteit is nodig in enige omgewing om te keer dat jy ’n klomp mense het wat almal dieselfde dink,” sê sy. "Ek het in ’n baie mansgedrewe omgewing begin werk, en jou opinie word dikwels nie in ag geneem nie, selfs al is jy dalk die één lid van die groep wat iets uit ’n ander hoek sien. "As almal van dieselfde kultuur of omgewing is, kan hulle nie dinge behoorlik bevraagteken nie. As vroue, het ons byvoorbeeld ’n natuurlike gewilligheid om te luister en saam te werk in ’n span – daardie element van koestering wat ons in ons het. Dis baie waardevol."

Sy’s nie juis een om ledig rond te sit nie, so toe haar kinders begin ouer word, wou Botha ’n nuwe avontuur aanpak. "Engeland het ’n fantastiese staatskoolstelsel met passievolle onderwysers. Ek het gedink dis tyd om iets anders te doen; my kinders word groter. Dit het net reg gevoel om ’n wetenskaponderwyser te word." In hierdie dinamiese omgewing waar sy "nooit stilsit nie" en "met haar hande kan praat", leef sy nou haar passie uit om die volgende geslag wetenskaplikes en ingenieurs te help ontwikkel.  

Indien jy tot die beurs wil bydra, gebruik gerus die volgende besonderhede:

Verwysing: The Stutterheim High School STEM Bursary-rekening van die US se SA Stigting in die VK

Vir direkte bankbetalings: NatWest Bank

Rekeningnommer: 39448843

Sorteerkode: 60 00 01

Belangstellendes kan ook skenkings in die US se Suid-Afrikaanse rekening inbetaal. Besonderhede is te kry by Lorenza George van die Alumnikantoor by lcg29@sun.ac.za.