Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2023

Só skryf Rufus Gouws, Professor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch:

Die Departement Afrikaans en Nederlands is baie dank aan Japie Coetsee verskuldig vir hierdie besondere gebaar. Hy het hierdeur weer eens bewys dat alhoewel hy in sy loopbaan met woorde gewerk het, hy ook terdeë bewus was van die belang daarvan om die daad by die woord te voeg. En hierdie daad dra nie net daartoe by dat sy naam in die akademiese omgewing voortleef nie, maar dit verseker dat sy lewenstaak, die bevordering van Afrikaans, voortgesit kan word.

Japie Coetsee se lang loopbaan as leksikograaf was ’n bevestiging van ’n veel omvattender belangstelling en entoesiasme, te wete ’n belangstelling in en ’n entoesiasme vir Afrikaans as taal. Sy leksikografiese werk was een manier waarop hy aktief kon bydra tot die kunstige en wetenskaplike bewerking van die leksikon van Afrikaans om daardeur dié skat te boekstaaf vir sowel die huidige as die toekomstige lede van die Afrikaanse taalgemeenskap. In sy leksikografiese werk het hy én die Afrikaanse taal én die Afrikaanse kultuur wat in die taal neerslag vind, beskryf – en daardeur Afrikaans en die Afrikaanse leksikografie ingrypend verryk.

As leksikograaf was Coetsee betrokke by die opstel van verskeie dele van die omvattende Woordeboek van die Afrikaanse Taal, die WAT. Hy het oor die vermoë beskik om die betekenis en betekenisonderskeidinge van ’n woord op ’n keurige en presiese manier te verklaar en om uit die dataversameling van die WAT die mees gepaste voorbeelde te kies wat die gebruik van die woord in sy verskillende betekenisonderskeidinge kon illustreer. Daardeur kon die gebruiker van die woordeboek ’n goeie begrip van ’n woord se betekenis kry, maar ook leiding kry oor hoe om ’n woord in ’n bepaalde gebruiksituasie aan te wend.

Vir Japie Coetsee was dit belangrik dat sy werk ’n verwerkliking bied van sy liefde vir Afrikaans en die Afrikaanse leksikografie. Dit was vir hom ook belangrik dat hy nie net deur sy leksikografiese werk hulp aan sprekers van Afrikaans bied nie, maar ook deur persoonlike betrokkenheid. As personeellid van die WAT was dit sy taak om aan studente in leksikografie wat die WAT besoek het, ’n oorsig te bied oor die werk van die Buro van die WAT, oor die leksikografiese proses en ook oor die aard en omvang van ’n leksikograaf se reusetaak. Hierdie opdrag het hy met oorgawe en met sorg uitgevoer en die studente begeester vir sowel die leksikografie as die Afrikaanse taal.

Beurse wat toekomstige studente danksy Coetsee se bemaking sal ontvang, sal sy liefde vir Afrikaans en die Afrikaanse leksikografie laat voortleef.

Daarvoor spreek die Departement Afrikaans en Nederlands opregte dank en waardering uit.