"Toe ek sewe jaar oud was, het my broer ’n plan beraam om my in die huis en weg van die slegte invloede daar buite te hou. Hy het my sakgeld gegee om my besig te hou met sketse van motors en mense in tydskrifte. Ek het besef dat teken vir my vanself kom en só versot daarop geraak dat ek my selfs tydens skoolpouses daarmee besig gehou het. Ek het werklik goed geteken en net geweet dis wat ek die res van my lewe wil doen,” vertel hy.
Lwandiso het akademies uitgeblink en kon ’n beurs van die Make a Difference-stigting kry om kuns as vak by die Bridge House School in Franschhoek te neem. Die beurs het hom tot die begin van sy derde jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) ondersteun. Gelukkig kon hy mense rondom hom vind, onder meer dr Therina Theron, wat hom gehelp het om ’n verdere beurs by die Hillensberg Trust te kry. Die Trust ondersteun studente wat akademies presteer en finansieel behoeftig is. Hy kon vir die volle duur van sy voorgraadse en meestersgraadstudie met die steun van hierdie beurs studeer.
"Die beurse het regtig my lewe ten goede verander," sê Lwandiso. "Dit het baie van die finansiële stres weggeneem en my persepsie van mense, die wêreld en hoe ek myself daarin sien, verander."
Saam met die goeie geluk het Lwandiso ook sy deel van teëspoed ervaar. Sy MA-graad het in 2020 op die laagste noot moontlik begin toe die Covid-19-pandemie die hoëronderwyssektor ontwrig het. Die volgende jaar is sy suster oorlede en hy is in die rol van pa vir haar drie jong kinders geplaas. Daar was egter meer op pad. In 2023 is sy suster se jongste kind in ’n brand dood terwyl hy by sy tante in die Oos-Kaap gewoon het. Lwandiso het boonop sy huis in Kayamandi in ’n brand verloor.
"Ek moes my MA-graad voltooi te midde van al die chaos," sê hy. "’n Moeilike kursus het selfs moeiliker geword oor my persoonlike verantwoordelikhede en omstandighede. Ek kan dinge baie goed balanseer, maar daar was net soveel meer druk wat ek moes hanteer, wat ek nie voor my MA-graad hoef te trotseer het nie."
Maar Lwandiso, wat ook sy ouers en twee broers en susters in die bestek van net vier jaar (tussen die ouderdom van 13 en 16) verloor het, sê hy het gewoond geraak daaraan om hartseer te hanteer.
"Dis moeilik, maar ek laat my nie deur my emosie lei nie. Ek dink my swaarkry het my half immuun gemaak teen die emosie van verlies. Ek doen wat ek moet doen en hanteer die hartseer soos dit kom, ek probeer verhoed dat dit my lewe oorneem."
Lwandiso word steeds tot vandag toe deur sy ouers geïnspireer en beïnvloed. Sy navorsing vir sy MA-graad, wat toegespits is op hoe Afrikatale deur kolonialisme, Christenskap, globalisering, modernisering en apartheid geraak is, is op hul leringe gebaseer.
"My pa het dit beklemtoon dat jy moet weet wie jy is: jou identiteit en jou stamnaam, want dis hoe jy jou geskiedenis in die Xhosa-kultuur naspeur. My ma het my aangemoedig om te studeer en kennis op te doen van alles wat my inspireer, en om my denkwyses te bevraagteken," sê Lwandiso.
Hy voeg by: "So, dis vir my belangrik om die kennis wat ek opgedoen het deur my ouers se lesse, my beurse, en my opvoeding te deel. Ek probeer altyd om terug te gee aan my gemeenskap. Ek gee al klas aan kinders sedert 2014, want dis wat my ouers sou gedoen het. Dis ’n plig. Dit maak my wel ’n bietjie bang, maar dit inspireer my ook. Dis ’n verantwoordelikheid wat ek met trots dra."
Met sy graadsertifikaat in sy sak wil Lwandiso graag as ’n vryskutkunstenaar werk en sy eie baas wees. Hy wil ook doseergeleenthede ondersoek.