Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2019

Sedert die brand, het alumni, personeel, studente, lede van die gemeenskap en US-bestuur geweldige steun teenoor inwoners van Huis ten Bosch getoon. 'n Skenkingsblad wat op die GivenGain-skarebefondsingsplatform deur die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge opgerig is, het meer as R49 000 ingesamel, en Marsh, 'n versekeringsmakelaar en risikobestuursfirma, het nuwe skootrekenaars geskenk aan inwoners wat hul besittings verloor het. Plaaslike winkels het geskenkbewyse van meer as R5 000 geskenk en kontantskenkings van meer as R10 000 is ontvang.

"Die ondersteuning was oorweldigend!" het Köhler bygevoeg.

Die dak bokant agt kamers op die derde vloer van die koshuis is heeltemal in die brand vernietig wat op 12 Augustus 2019 omstreeks 19:00 uitgebreek het. Al 164 inwoners van Huis ten Bosch is veilig ontruim en is sedertdien van alternatiewe akkommodasie voorsien. Niemand is ernstig beseer nie - een student is vir brandwonde aan haar hande in die Stellenbosch-hospitaal behandel, en ʼn ander student vir rookinaseming.

Die herstel- en konstruksiewerk is aan die begin van September 2019 begin en die Universiteit het sedertdien aangekondig dat Huis ten Bosch in 'n moderne, geskikte koshuis, wat in 2021 geopen gaan word, omskep sal word.

Die opgraderings en herstelwerk ten bedrae van sowat R62,5 miljoen, sal verseker dat Huis ten Bosch nie net aan die jongste munisipale regulasies voldoen nie, maar ook toegerus word met moderne kombuisies vir studente op elke vloer, opgegradeerde elektriese en elektroniese toerusting, 'n nuwe IT-veselkabel en hul eie waterverbinding is van die talle beplande verbeterings. Die hele dak sal met 'n brandweerstandige plafon en dak vervang word. Twee-uur-brandweerstandige deure sal in al die kamers aangebring word, wat sal help om brandsones te kompartementaliseer.

Aanvanklik is gehoop dat die herbouing betyds voltooi sou word vir studente om vanaf Januarie 2020 die koshuis te betrek. Dit sal egter nie moontlik wees nie, aangesien brandkompartementalisering en brandalarms 'n voorvereiste van die Stellenbosse Brandweer is vir die uitreiking van 'n post-brand veiligheidsertifikaat. Die implementering van hierdie vereistes gaan langer neem as wat aanvanklik voorsien is.

HtB-inwoners is by 'n onlangse vergadering ingelig dat die groot opknapping en herbouing na verwagting teen 23 Oktober 2020 voltooi wees en dat alternatiewe verblyfreëlings gevolglik vir HtB-studente vir 2020 getref is.