Toe Franz Müller in 2013 sy tagtigste verjaardag gevier het, het sy kinders hom opvoeding as geskenk gegee – nie vir homself nie, maar in die vorm van ʼn beursfonds in sy naam. Ses jaar later, by die Universiteit Stellenbosch (US) se April 2019-gradeplegtigheid, het Franz die voorreg gehad om te ervaar hoe hierdie geskenk die lewe van Raymond Botete, die eerste ontvanger van die Franz en Waltraud Müller-beurs, verander het.
Die Switserse egpaar spandeer reeds die afgelope 20 jaar winters in Somerset-Wes. “Ons het ʼn hegte band met Suid-Afrika, veral met die Kaap-omgewing, en ons is daarvan oortuig dat die land ʼn blink toekoms het. Ons wou altyd iets teruggee aan hierdie pragtige land en sy mense.”
Met dít in gedagte het Franz se dogter, Regula Müller Hoenger, en haar broers, Felix en Marc, besluit om die Franz en Waltraud Müllerbeursfonds op die been te bring om hul pa “iets meer as die gewone verjaardaggeskenk te gee”.
Regula sê: “My pa was nog altyd baie vrygewig en ondersteun mense graag, so ons het gevoel dit sal die ideale geskenk wees. Stellenbosch is ʼn bekende universiteit en was daarom ʼn ooglopende keuse.”
En wás Franz nie bly nie. “Ek was oorstelp van vreugde. Ek was baie bly dat die kinders aan so ʼn wonderlike geskenk gedink het. Dat hulle in ʼn goeie saak geglo het en daaraan gedink het om ʼn geskenk te gee wat in my naam iets goeds vir iemand anders sou doen.”
Vir die afgelope sewe jaar is daardie iemand Raymond Botete. Raymond het in die Limpopo-provinsie grootgeword en in 2009 aan die Hoërskool Makgofe gematrikuleer. Ná skool het hy vir een jaar aan die Universiteit van Limpopo BSc Geologie gestudeer, en daarna ʼn jaar afgevat voordat hy in 2012 by die US vir ʼn graad in Meganiese Ingenieurswese ingeskryf het.
Dankbaar
Raymond se gesin het gesukkel om finansieel die mas op te kom aangesien sy weduwee-ma werkloos was. “Die beurs was ʼn groot finansiële verligting vir my en daarom is ek baie dankbaar vir die ondersteuning van Franz en Waltraud Müller,” sê hy.
In 2016 het Raymond, tans ʼn junior lektor aan die US, sy BIng-graad verwerf en toe vir sy meestersgraad in Meganiese Ingenieurswese ingeskryf. Sy navorsing het oor saamgestelde vervaardiging gehandel. Regdeur sy studieloopbaan het die Müller-familie ʼn groot belangstelling in Raymond en sy
vordering getoon.
Regula sê hulle is almal baie bly dat hulle kon bydra tot Raymond se opleiding en is baie trots op sy sukses. “Dit was immers hy wat al die werk moes doen. Ek en my broers het die kans gehad om hom persoonlik te ontmoet tydens ons besoeke aan Suid-Afrika en het dit geniet om hom te leer ken. Ons is bly dat ons geskenk ʼn verskil in sy lewe en die lewe van sy familie gemaak het.”
Ambisieus
Franz eggo hierdie sentiment: “Ek is baie trots op sy prestasies. Raymond is ambisieus en vasberade. Hy het baie hard gewerk. Ons het ʼn baie persoonlike verhouding met hom en dit is ʼn groot eer om te kan sien hoe die kinders se geskenk so ʼn positiewe impak op sy lewe gemaak het.”
Maar Raymond is nog nie klaar met die boeke nie en werk tans aan ʼn PhD. “Ten spyte van druk van my familie om te gaan werk, bied die beurs my die geleentheid om verder te studeer terwyl ek my loopbaanopsies oorweeg. Ek wou nog altyd ʼn professor word, sodat ek ook ander studente kan help om hul drome te bewaarheid.”