Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2019

Die donasies staan tans op net oor die R14 000.

Hierdie fonds is gestig tydens sy inhuldiging in 2015 as 'n direkte reaksie op versoeke van studente en 'n verdere teken van regstelling waartoe die universiteit hom aan die begin van die 21ste eeu verbind het.

"Hoër onderwys is 'n kragtige vorm van bemagtiging en dit is dus vir my 'n prioriteit om geleenthede vir studente in finansiële nood te skep. Daarom dra ek my 60ste verjaardag op aan die Die Vlakte-beursfonds en vra julle almal om 'n finansiële bydrae op my GivenGain-bladsy te maak.

"Die Vlakte-beursfonds is een van my hoogtepunte as rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. Vier jaar gelede het ek aangekondig dat die Universiteit 'n beursfonds vir voormalige inwoners van Die Vlakte en hul nasate sal stig. Waarom was dit nodig? Om 'n onreg wat in die 1960's plaasgevind het, reg te stel," sê hy.

Hierdie fonds bevoordeel hoogstens vyf studente per jaar. Hulle is nasate van diegene wat met geweld verwyder is in die 1960's uit 'n woonbuurt teenaan die middedorp wat deels met die US oorvleuel het en wat bekend was as Die Vlakte. Dit was 'n woonbuurt in die omgewing tussen Muller-, Bird- en Joubertstraat en Merrimanlaan, waar die meestal bruin inwoners met geweld onder die Groepsgebiedewet verwyder is. Die Universiteit het destyds nie betoog nie.

In Oktober 2018 het die Universiteit hulde gebring aan die mense van Die Vlakte toe die gebou wat nou die Universiteit se Africa Open Institute for Music, Research and Innovation (AOI) huisves, vernoem is na Pieter Okkers, die man wat dit oorspronklik as 'n huis vir sy gesin gebou het.