Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2019

Die skenking het ruimte geskep vir empatiese openbare gesprekvoering, wat historiese trauma op verskeie platforms, insluitend teaterproduksies, filmvertonings en openbare dialoë, na vore gebring het. Prof Pumla Gobodo-Madikizela, wat die Leerstoel vir Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch beklee, verduidelik: “Ons het ons tot die kunste gewend, maar was versigtig om die kunste te gebruik om met die verlede om te gaan sonder om noodwendig die verdelings aan te wakker wat daardie destydse konflikte gekenmerk het.”

Die skenking se eerste bydrae was die Igugulethu-kunsteakademie se optrede in September 2018 in die Stellenbosch Universiteitsmuseum. Hulle toneelstuk No Christmas for us: South Africa is gegrond op die werklike gebeure van Desember 1976, toe die apartheidsregering se weermag op die Kaapse township Nyanga toegesak en inwoners aangeval het. Lede van die gemeenskap is voor die voet doodgemaak omdat daar geglo is dat hulle anti-apartheidsdoelwitte nastreef. Nokuzola Zoe Bikwana, wat as kind die gebeure beleef het, het die oorspronklike, bekroonde teks vir die drama geskryf. Die toneelstuk is in Desember 2018 ʼn tweede keer voor ʼn internasionale gehoor opgevoer by ʼn kongres oor erkenning, herstel en versoening getiteld “Recognition, reparation, reconciliation: The light and shadow of historical trauma”, oftewel die RRR-kongres.

Africa’s Hope is ʼn teaterstuk gegrond op die volksmoord in Rwanda. Die stuk kombineer musiek, vertelling, toneelspel en dans, en skets die stories van oorlewendes op verskillende stadiums tydens die volksmoord. Dit toon ook hoe Rwanda uit die vernietiging van die volksmoord herrys het om ʼn plek te word waar die families van slagoffers en daders nou saam woon en hulle land herbou. Die uitvoering van hierdie produksie deur die Mashirika-teatergroep in Augustus 2019 in ʼn volgepakte Drostdy-teater in Stellenbosch het die gehoor in trane gelaat.

Na afloop van elk van die twee toneelstukke was daar gefasiliteerde sessies tussen die geselskap en lede van die gehoor, waar ʼn nuwe ‘taal’ geskep is om met die verlede om te gaan en deelnemers in staat te stel om hulle eie posisie met betrekking tot die gebeure in oënskou te neem.

ʼn Verskeidenheid films oor trauma en genesing is ook tydens die RRR-kongres in Desember 2018 vertoon. Die Senator George Mitchell Instituut vir Globale Vrede, Veiligheid en Geregtigheid het gewys hoe hulle film gebruik om die kunste in te span om trauma en genesing in Noord-Ierland te hanteer. Cahal Mclaughlin se ʼn film Armagh Stories, het die Troubles – die jarelange, gewelddadige etnies-nasionalistiese konflik in Noord-Ierland – uitgebeeld. Onder die Suid-Afrikaanse bydraes wat vertoon is, was Siona O’Connell se film oor die gevolge van gedwonge verskuiwings in Suid-Afrika oor geslagte heen en Mark Kaplan se vertelling van ʼn moeder se soektog na die oorskot van haar seun wat tydens apartheid deur die veiligheidspolisie vermoor is. 

Die hoofaktiwiteit wat deur die Rosa Luxemburg-skenking moontlik gemaak is, was die Sigrid Rausing-dialoë, wat in Desember 2018 as deel van die RRR-kongres aangebied is. Hierdie unieke en ingewikkelde dialoë het die vorm van parallelle en plenêre sessies aangeneem, waar stories uit verskillende konflikkontekste deur slagoffers en afstammeling van trauma gedeel is. Die unieke waarde van die dialoë lê daarin dat die fasiliteerders doelbewus toegelaat het dat die gesprek as ʼn organiese proses, sonder ʼn vasgestelde formaat, ontwikkel. “Die bedoeling was om verby binêre begrippe van geweld en die gevolge daarvan te beweeg, en toe te laat dat elke persoonlike reis deur diegene teenwoordig gehoor en gehuldig word,” het prof Gobodo-Madikizela gesê.

Die Sigrid Rausing-dialoë het nie net gehandel oor die impak van kollektiewe trauma oor geslagte heen nie, maar ook die maniere ondersoek waarop die erkenning, vergoeding en genesing van historiese trauma oor tyd ontvou, veral in gemeenskappe wat in ʼn oorgangstydvak is.