Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2019

Die streekekspo maak voorsiening vir leerders van skole uit gebiede so ver en wyd as Bellville, Paarl, Kraaifontein en Bredasdorp om hul wetenskapprojekte vir beoordeling uit te stal. Die wenprojekte word dan gekies om die Stellenbosch-streek by die nasionale Ekspo, ook bekend as die Eskom Expo International Science Fair (ISF), te verteenwoordig.

Die Stellenbosch-streekekspo se mylpale die afgelope 20 jaar (2000 tot 2019) sluit in ’n groei in deelnemersgetalle van 143 tot 467; altesaam 5 503 leerders en 3 298 projekte wat op streekvlak deelneem; ’n toename in die getal deelnemende skole van 18 tot 33; asook die steun van die politikus Helen Zille, wat die koek op die ekspo se 10de verjaarsdagvieringe gesny het.

Onder vanjaar se feesvieringe tydens die streek se verjaarsdag was ’n skemeronthaal, vermaak deur eenwiel-fietsryers en gesigskilders, ’n spesiale verjaarsdagkoek, kolwyntjies vir die leerders, ballonne, ’n geskenk vir elke leerder, en ’n spesiale bottel wyn vir elke beoordelaar en vermaaklikheidskunstenaar.

Bersan Lesch, voorsitter van die direksie van die Eskom Ekspo, en Krishnie Naidoo, akademiese direkteur van die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes, was onder die spesiale gaste. Die seremoniële sny van die verjaarsdagkoek is waargeneem deur die US-rektor en visekanslier, prof Wim de Villiers, en sy vrou Catherine.

Erika Hoffman, projekkoördineerder by SUNCEP en die Ekspo-streekkoördineerder op Stellenbosch, was saam met MJ Brookes (destyds van die Fakulteit Ingenieurswese), Anneke Müller en Bets Lourens (voorheen personeellede van die US se Instituut vir Wiskunde en Wetenskaponderrig [IMSTUS]), sowel as Gillian Arendse (’n dosent aan die Departement Fisika in 2000), betrokke by die reël van die eerste Stellenbosch-streekwetenskapekspo. US-personeellede was van die begin af as beoordelaars betrokke, wat leerders in die streek die bykomende waarde gebied het dat akademiese kundiges hul eerste navorsingsprojekte kon evalueer.

“Ek het aanvanklik in die negentigerjare as onderwyser in Mpumalanga betrokke geraak toe ek my leerders vir die Ekspo ingeskryf het. Nadat ek in 2000 na die Wes-Kaap verhuis het, het ek by IMSTUS begin werk. Dit was ’n natuurlike platform om ’n navorsingsgebaseerde wetenskapkompetisie aan te bied en om onderwysers en hul leerders betrokke te kry. ’n Paar van ons het die eerste komitee gevorm, en die eerste streekekspo op Stellenbosch is dieselfde jaar gehou,” sê Hoffman.

Sy beskou die 20 jaar wat sy by die Stellenbosch-streekekspo betrokke is, as ’n voorreg en ’n prestasie, en is veral trots op die veranderings wat deelname aan die program in talle leerders se lewe oor die jare teweeg gebring het.

Een van die leerders is Dillon Hopley van die Hoërskool Bredasdorp, wat aan die Ekspo van 2010 deelgeneem het met sy projek oor die ontwerp van ’n rooklose skoorsteen. Volgens Hopley het sy deelname aan die Ekspo sy beperkte persepsie oor wetenskap verander en hom gehelp om ’n loopbaanbesluit te neem.

“Ek het my Ekspo-geleenthede benut om uit te vind waarin ek regtig belangstel, want die beoordelaars kyk nie net krities na jou werk nie, hulle gee ook raad en deel hul kennis en ervaring op daardie spesifieke gebied,” sê hy.

Hy het uiteindelik vir ’n BIng (Meganies) aan die US studeer en ’n permanente lid van die Suid-Afrikaanse Lugmag geword. Hy het ook teruggekeer om as beoordelaar by die Stellenbosch Ekspo op te tree.

Dan is daar Siphosethu Mbuli van die Hoërskool Kayamandi, wat in 2010 aan die streekekspo sowel as die nasionale ekspo deelgeneem het, met haar projek wat ondersoek ingestel het of koffie jou werklik op en wakker maak. Mbuli, wat aan albinisme ly, het in 2018 die Queen’s Young Leader-toekenning van Haar Majesteit Koningin Elizabeth in die Buckingham-paleis ontvang.

Die toekennings vier “uitsonderlike jongmense” tussen die ouderdom van 18 en 29 jaar van oor die hele Statebond, wat hulle beywer vir blywende verandering in hul gemeenskappe. Mbuli is vereer vir haar werk met mense wat met albinisme saamleef, deur haar stigting Love, This Skin.

“Dit is waaroor alles gaan,” sê Hoffman. “Om verandering te bring in die manier waarop kinders oor wetenskap en hul loopbaankeuse dink, om kritiese, uit-die-boks-denke aan te wakker. Dit is wat ons met hierdie Ekspo wil doen – belê in leerders omdat hulle ons toekoms is, want dit is hulle wat die oplossings vir die huidige probleme in die wêreld moet vind.”