Die versameling, getiteld These are the things that sit with us en onder redaksie van Pumla Gobodo-Madikizela, Friederike Bubenzer en Marietjie Oelofsen, gee intieme en eerlike weergawes van die narratief wat die lewens van gewone Suid-Afrikaners vir baie jare gekenmerk het.
Vasgelê deur uittreksels uit omvattende onderhoude met inwoners van Bonteheuwel, Langa en Worcester in die Wes-Kaap, illustreer die verhale die gevolge van apartheid se nadraai op individue en hul families. Elkeen van die verhale in die boek word met die vertellers se foto’s gepubliseer en enige ander foto's wat hulle vir insluiting in die boek uitgesoek het.
Deelnemers is genooi om hul verhale in die taal van hul keuse te vertel aan onderhoudvoerders wat die deelnemers se moedertaal verstaan, of dit nou isiXhosa, Afrikaans of Engels is. Die stories is daarna professioneel getranskribeer. Transkripsies van die onderhoude wat in isiXhosa en Afrikaans gevoer is, is in Engels vertaal vir die ontleding van die inligting wat met die onderhoude verkry is. Vir die grepe in dié boek is die isiXhosa‑ en Engelse transkripsies egter in Afrikaans vertaal ten einde die uittreksels uit al die verhale in drie tale te publiseer. Vertalings uit die deelnemers se oorspronklike tale is met groot sorg gedoen, met professionele taalpraktisyns wat daarteen gewaak het dat die nuanse van elke individu se stem nie in die vertaalproses verlore gaan nie.
Fondse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is gebruik om die verhale wat in isiXhosa en Engels vertel is in Afrikaans te vertaal. Die doelbewuste gebruik van verskillende tale bied aan ’n verskeidenheid gemeenskappe die geleentheid om die verhale te lees en te begryp hoe mense uit diverse agtergronde en verskillende gemeenskappe dit beleef het. Hierdie eienskap van die boek bevorder ook ’n groter begrip vir die gedeelde geskiedenis wat ons as Suid-Afrikaners aan mekaar bind.
Hierdie versameling verhale maak die deur oop vir broodnodige veeltalige gesprekke oor ons komplekse Suid-Afrikaanse verlede en die voortslepende uitwerking daarvan op diegene wat onder apartheid geleef het, terwyl dit ook openlik ’n hoorbare stem gee aan die lewens van gewone mense wat probeer sin maak van die pyn wat hulle onder apartheid moes verduur. Die ineenvlegting van die verhale in al drie die tale wat die meeste in die Wes-Kaap gepraat word, vang ’n diep gemeenskaplike begeerte vas om bo die verdelende nalatenskap wat die onderbou van ons traumatiese verlede vorm, uit te styg.