Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2019

Prof De Villiers wat reeds in Europa was om fondsinsamelingsgeleenthede met Europese skenkers vir die Universiteit Stellenbosch te ondersoek, het die rit saam met Chris Pauw, Chris Donn, Abraham Botha, Anthony Bragg en Carli aangepak. Saam het hulle die 55 myl of 88 kilometers vanaf Clapham Common in Suid-Londen na die kusdorp Brighton in ‘n tyd van 6uur en 46 minute voltooi.

"Ons is baie trots op ons ses fietsryers - hulle het die fietsrit voltooi en ook die fondsinsamelingsdoelwit van £ 7 500 oorskry om tot dusver 'n ongelooflike bedrag van £ 8 060 in te samel," sê Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge aan die US.

"Die Universiteit Stellenbosch is gelukkig om 'n leier te hê wat altyd bereid is om daardie ekstra myl te gaan om studente in nood te help," voeg Bruns by.

Die geld wat ingesamel is gaan aan die Universiteit se VK/EU-beursfonds wat geskep is om finansiële steun vir benadeelde studente te help voorsien. Hierdie beursfonds sal akademies-begaafde dog finansieel benadeelde studente die geleentheid bied om sukses by Maties te behaal en hul volle potensiaal te bereik. Die bedrag van £7 500 kan ten minste een student se onderrig, huisvesting, kos en handboeke vir ’n jaar betaal.

"Ek moet bieg, die bene is beslis seer, maar die gees is altyd gewillig! Indien ons pogings die volgende geslag Maties die kans gee om hul volle potensiaal te bereik sonder spanning en struikelblokke op hul pad na sukses, is alles die moeite werd. Die kameraderie was wonderlik, en ek is dankbaar teenoor my spanmaats wat hierdie uitdaging aangepak het,” sê prof De Villiers.

Die afgelope twee jaar het prof De Villiers aan verskeie sportgeleenthede deelgeneem om geld vir beurse en voedselhulp in te samel. Hy het die Kaapstadse Fietstoer (CTCT) twee keer agtermekaar voltooi en die volle 42,2km Sanlam Kaapstad-marathon gehardloop om studente te help.

Later vanjaar het die US ook 'n span in die Cape Epic 2020, 'n liefdadigheidsinskrywing in die CTCT 2020, en is van plan om hardlopers te ondersteun in die 2019 Gun Run, die 2020 Soweto en Comrades-marathons, en nog meer. Elke deelnemer word deur die Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge Afdeling se eweknie-fondswerwingspan ondersteun om hulle te help met kommunikasie en om self ook goeie fondswerwers te word. Daar word van deelnemers verwag om geld in te samel vir die spesifieke verdienstelike US-projekte voordat hulle aan die geleenthede deelneem. 

Darryn Havenga, die US se direkteur vir fondswerwing in die VK, verduidelik: "Die fietsryers het onder die vaandel van die Universiteit Stellenbosch VK-stigting deelgeneem, 'n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk met die doel om geld in die VK en die EU in te samel tot voordeel van die Universiteit Stellenbosch.

"Die VK-stigting het 'n beroep gedoen op alle alumni wat in die Verenigde Koninkryk en die Europese Unie woon, om by ons Rektor aan te sluit nadat prof De Villiers op uitnodiging van VK-stigting trustees ingestem het om deel te neem. Omdat hierdie 'n fondswerwingsinisiatief was, moes alle deelnemers vir hul eie reis na en verblyf in Londen betaal. Deelnemers moes ook instem om fondse te werf vir hierdie verdienstelike saak op die GivenGain skarebefondsingsplatform."