Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

Gedurende die jaar het ons duidelik bewus geword van die aantal studente in ons midde vanuit huise waar daar nie genoeg geld vir hul universiteitsopleiding is nie. Talle, met of sonder 2020-studiebeurse, moes met die blote minimum vir hul behoeftes klaarkom.

Talle wat voor die pandemie voedselonsekerheid ervaar het, het by die huis groter uitdagings in die gesig gestaar onderwyl hulle probeer het om die jaar suksesvol te voltooi. Toenemende werkloosheid het ook daardie studente geaffekteer wat voorheen finansieël redelik goed oor die weg kon kom, maar ongelukkig hul deeltydse werk verloor het weens die landwye inperkingstydperk wat in Maart 2020 aangekondig is. Finansiële ondersteuningstrukture van ons verlore middelgroep het ook verbrokkel namate die inperking verleng is.

Alhoewel COVID-19-regulasies nagekom is, moes die werkswyse van die projek aangepas word om oproepe tot hulp van studente wat tuis studeer, te akkommodeer. Behoeftebepalings het van persoonlike kontak na aanlynplatforms verskuif sodat studente tuis toegang kon verkry.

Ons voorgraadse studentegroep het ‘n groter behoefte (65%) aan #Move4Food-ondersteuning in 2020 gehad, maar ons het ook 'n beduidende toename gesien in die versoeke vir ondersteuning van ons nagraadse studente. Die beroep op hulp wat nou ook nagraadse studente insluit, is 'n bewys van die werklikheid wat ons studentegemeenskap mee worstel. Terwyl baie van hul behoeftes op een of ander manier in hul gemeenskappe geabsorbeer is terwyl hulle tuis met hul studies voortgaan, het ons die situasie gemonitor om te reageer wanneer oproepe om hulp ontvang is. Teen die tyd wat die November-eksamens aanbreek is beursfondse uitgeput en histories neem ons ook 'n aansienlike toename waar in die vraag om hulp.

Ten spyte van moeilike ekonomiese toestande wat die land ondervind, het ons donateurs nietemin #Move4Food ondersteun en sodoende die volhoubaarheid van die projek verseker. Ons ervaar egter steeds die gevolge van die pandemie. In 2020 het die projek R550 413 ingesamel – ‘n bewys dat ons Matie-gemeenskap werklik omgee vir die behoeftes van studente.

Ons is uiters dankbaar dat ons donateurs steeds betrokke by die #Move4Food-inisiatief is. Ons bedank hulle vir die verskil wat hulle in die daaglikse lewens van ons studente maak.

Jolene Fransman is 'n projekskrywer by die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge en werk nou saam met die #Move4Food-fondswerwingspan.

 

#Move4Food duur voort

Die #Move4Food-veldtog is in Augustus 2018 van stapel gestuur om die voedselsekerheidsinisiatiewe aan die Universiteit Stellenbosch oor drie jaar vol te hou – vanaf 2019 tot 2021. As gevolg van die toenemende behoefte onder ons studente, sal #Move4Food-inisiatiewe in die afsienbare toekoms voortduur.

In samewerking met die studenteleierskap van 2018, 2019 en 2020 is verskeie stappe gedoen om voedselonsekerheid op ons kampusse die hoof te bied. Die fokus was, en is steeds, op bewusmaking van die kwessie, om die stigma wat aan hongersnood klou te verwyder en ons gemeenskappe byeen te bring deur solidariteit te toon. 

  • KLIK HIER om te sien hoe julle donasies 'n verskil in die lewens van ons studente gemaak het.