Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

As die voorste bank wat die Suid-Afrikaanse landbousektor bedien, toon Absa 'n daadwerklike belangstelling in die voortgesette ontwikkeling en opleiding van vaardighede om volhoubaarheid en transformasie in hierdie sektor van die land te verseker. Die doel is om in die vraag na bekwame werkslui in die onderskeie gebiede van ons landbousektor te voorsien.

“Noudat ons hierdie inisiatief van stapel gestuur het en met die vooruitsig van opvoeding en ondersteuning vir ons jongmense, wil ons seker maak dat ons hulle die vaardighede bied wat hulle benodig om nie slegs ‘n suksesvolle bestaan te voer nie, maar ook om ons ekonomieë en gemeenskappe in die toekoms aan te spoor,” sê Sazini Mojapelo, Groephoof vir Korporatiewe Burgerskap vir Absa.

Prof Danie Brink, dekaan van die US se Fakulteit AgriWetenskappe, noem dat die Fakulteit die ondersteuning waardeer wat korporatiewe Suid-Afrika en veral Absa bied. “Sulke pogings help baie om die Suid-Afrikaanse landbousektor en die mense wat dit in die toekoms sal lei, te ondersteun om te verseker dat die produksie van genoeg voedsel vir ons mense 'n prioriteit bly.”

Die program het in November 2020 weggespring met 'n virtuele ontmoet-en-groet-geleentheid vir die AgriBusiness-beurs, maar begin formeel in 2021. Die studiebeurse sal die duur van 'n student se studie dek as hulle ‘n gemiddelde van 60% handhaaf. Die beurs dek onderrig, akkommodasie, handboeke, leermateriaal en etes. Die program bied ook 'n dinamiese ondersteuningsinisiatief vir studente wat uit verskeie afdelings tydens die duur van 'n graadkursus bestaan. Volgens Lydia Magopa, Portefeuljebestuurder van Burgerskap, Opvoeding en Dienslewering vir Absa is die doel om studente te help om hulle in 'n universiteitsomgewing te vestig sodat hulle kan byhou en leer.”

Vanaf Januarie 2021 sal daardie studente wat studiebeurse ontvang het, aan Absa, as die beursbefondser, bekendgestel word. Hulle sal ook hulp ontvang om 'n Absa-bankrekening met ‘n gratis R500 te open. Studente sal ook vir die duur van die program aan inligtingsessies tydens geleenthede en seminare deelneem. Onderrig in ondervinding sal ook deel van die ondersteuningskomponent wees – studente sal in staat wees om aan kort kursusse deel te neem en tydens hul vakansies aan die werksopset blootstelling te kry. Ten slotte sal studente gedurende hul laaste studiejaar toegang hê tot hulpbronne soos CV-skryfwenke, raad vir werksonderhoude en toegang tot loopbaanekspo’s om hulle voor te berei wanneer hulle die universiteit verlaat en met vasberadenheid die werksomgewing betree.

Soos alle studente wat deel van die program vorm, sal hierdie 10 US-studente met 'n toegewyde span bestaande uit drie mentors skakel wat kundiges is op die gebied van landbou. Hierdie mentors sal hul primêre kontakpunt wees en sal kwartaalliks in aanraking kom om hulle aan te moedig en te help om die geleentheid ten volle te benut.

As 'n verdere aansporing vir studente om hul beste te lewer sal Absa ook 'n jaarlikse prys aan twee studente toeken. Die student wat die beste in die program presteer, sowel as die student wat die meeste tydens 'n akademiese jaar verbeter het, sal elk 'n wisseltrofee en R10 000 ontvang.