Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

In 2020 het die FirstRand-stigting R6,223 miljoen aan die US se Eenheid vir Gestremdhede geskenk om beurse, ondersteunende toestelle en menslike bystand aan studente met gestremdhede te voorsien. Sedert die verhouding tussen die FirstRand-stigting en die US se Eenheid vir Gestremdhede in 2014 begin het, het 15 beursontvangers al gegradueer, en het sommige hul studies voortgesit deur nagraadse kwalifikasies aan te pak.            

Die sleuteluitkomste van die FirstRand-stigting se program sluit in: Om inklusiewe/wyer toegang tot tersiêre opleiding moontlik te maak; om aandag te gee aan sistemiese uitsluitinghindernisse wat studente verhoed om hul tersiêre opleiding te voltooi; om die gehalte en doeltreffendheid van steundienste te verbeter; om eenhede vir gestremdhede se kapasiteit uit te brei; om aktiewe ekonomiese deelname te fasiliteer; en om innoverende idees en oplossings te ondersteun wat uitdagings in die tersiêre onderrigruimte aanspreek.

Die US se Eenheid vir Gestremdhede voorsien gekoördineerde steun aan studente met gestremdhede en fasiliteer dienste vir drukgestremde studente, transkribeerders vir gehoorgestremde studente, SA Gebaretaal-tolke vir dowe studente, en gespesialiseerde sagteware en hardeware vir siggestremde studente.

Baie van die studente wat deur die FirstRand-stigting ondersteun word, het volle beurse ontvang, wat onderrig, akkommodasie, boeke en toegang tot ondersteunende tegnologieë en menslike bystand insluit. Gedeeltelik beurse is in 2020 bekendgestel vir voorgraadse studente wat reeds ’n vorm van finansiering ontvang. Die gedeeltelike beurse bied aanvullende ondersteuning om bykomende koste te dek.              

"Die ondersteuning maak ’n reuseverskil," sê dr Marcia Lyner-Cleophas, hoof van die US se Eenheid vir Gestremdhede wat in die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) gesetel is.                         

"Ons verlig finansiële stres met hierdie beurs. Ondersteunende tegnologieë kan baie duur wees, selfs vir ’n middelklasgesin. Hierdie program maak dit vir ons makliker om ondersteuning voor te stel omdat ons weet daar is fondse beskikbaar wat die koste sal dek.”

Gedurende 2020 het fondse van die FirstRand-stigting dit ook vir die Eenheid vir Gestremdhede moontlik gemaak om studente te help met data- en internetverbindings sodat hulle toegang tot die COVID-19 Noodafstandonderrig, -leer en assesseringomgewing kon kry.

Die FirstRand-stigting se beurse maak ’n reuseverskil in die lewe van begunstigdes.       

Luigia Nicholas, ’n siggestremde student wat besig is met haar Nagraadse Diploma in Belastingreg, was een van die eerste ontvangers van ’n beurs. Sy het sedertdien betekenisvolle bydraes gelewer tot universiteitslewe, transformasie en insluiting by die US.

Sy het onder meer gedien as die bestuurder van die Studenteraad se komitee vir spesiale behoeftes en as voorsitter van Dis-Maties, ’n studenteorganisasie wat daarop gemik is om bewustheid ten opsigte van gestremdhede te kweek en om gelyke sosiale en akademiese insluiting van studente met gestremdhede te fasiliteer.

"Die beurs bied aan my die geleentheid om my studies sonder finansiële stres te voltooi en die vermoë om vir my gidshond, wat na my omsien, te sorg. Dit het my ook die vryheid gegee om ander drome na te streef, soos om ’n meer toeganklike omgewing vir studente met gestremdhede op kampus te skep, en die moed om vir dié studente voorbrand te maak."  

Die beurs het vir Pierre Jacobs, wat doof is, in staat gestel om sy studies ná sy voorgraadse studiejare voort te sit. Hy werk tans aan ’n meestersgraad in Ingenieurswese. "Sonder die beurs sou ek nie my passie vir programmering, webontwikkeling en -innovasie ontdek het nie. Die beurs sal my help om my meestersgraad te voltooi."