Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

Vir Tiaan Swart, 'n oudleerder van die Hoërskool Outeniqua op George, het 'n beurs van die Dippenaar Familietrust nie net vir hom gemoedsrus oor die finansiering van sy studies gegee nie; dit het hom ook aangespoor om selfs harder te werk en beter te presteer.

Swart, 'n finalejaar BRek-student en inwoner van Dagbreek, ontvang reeds sedert sy eerstejaar die beurs. "My pa is blind, wat dit reeds 'n uitdaging gemaak het om verder te gaan studeer, afgesien van die finansiële oorwegings. Die beurs het egter gesorg dat my bekommernisse oor studentegelde nie bewaarheid is nie. Sedert ek die beurs ontvang het, is ek baie rustiger oor finansies. Die beurs het my ook gemotiveer om aan te hou streef om my akademiese prestasie te verbeter, veral omdat ek geweet het dat al my werk in die verlede nie verniet was nie."

Swart het reeds in matriek vir baie beurse aansoek gedoen, maar het later begin moed opgee omdat sy aansoeke afgekeur is. "Wanneer ’n mens aansoek doen by die US, kry jy die keuse of jy wil aansoek doen vir beurse. Ek het besluit om dit te doen en het al die inligting en dokumente verskaf.” Maar toe hy maande later nog niks gehoor het nie, het hy eintlik daarvan vergeet. "In Mei van my eerstejaar het ek die wonderlike nuus gekry dat ek die Dippenaar Familietrust se beurs ontvang het."

Voorreg

Swart, 'n buitelug-entoesias en ywerige strand en rots-hengelaar, sê dit is vir hom 'n voorreg om in so 'n mooi omgewing te kan studeer. Hy was aanvanklik baie onseker oor watter universiteit en studierigting om te kies. "Ek het op die US besluit omdat dit relatief naby aan die huis is en ek seker is dat ek ’n hoëgehalte opvoeding sal ontvang. Ek het ook die Stellenbosch-omgewing beter geken as die plekke waar van my ander opsies geleë is."

En hoewel BRek altyd een van sy opsies was, het hy dit eers in matriek as ’n eerste keuse begin oorweeg. "Ek het daarop besluit omdat dit ’n baie veelsydige graad is wat my nie tot ’n spesifieke werkgewer sal beperk nie."

Swart het die Dippenaars al op twee geleenthede ontmoet en sê hul positiwiteit en aanmoediging beteken vir hom amper net soveel soos die beurs self. "Ek wil weer vir hulle baie dankie sê – nie net vir die beurs nie, maar ook vir die hoeveelheid moeite wat hulle doen om die beurshouers te leer ken, gemaklik te laat voel en aan te moedig. Veral hul positiwiteit oor die toekoms van ons land is baie motiverend.”

Daar is by hom geen twyfel oor sy planne vir die voorsienbare toekoms nie – hy wil seker maak hy kry keuring om in 2021 sy honneurs te doen en te voltooi, waarna 'n klerkskap en SAICA-lidmaatskap sal volg. En veel verder in die toekoms? "Ek wil beslis ook eendag graag iemand op dieselfde manier help, as ek bevoorreg genoeg is om dit te kan doen."

Ondersteuning

Die Dippenaars lewer al vir die afgelope 23 jaar ’n bydrae tot 'n beter toekoms vir talentvolle jong Matie-studente deur die beurse wat deur hul Familietrust aangebied word.

Die Dippenaar Familietrust het in 2020 R 1 865 000 geskenk om 29 studente in die Universiteit se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe finansieel by te staan. Hierdie ondersteuning stel studente in staat om op hul studies te fokus sonder die bekommernis dat hulle moontlik hul studies sal moet staak
weens 'n gebrek aan geldelike steun.

Die meeste van hul beurshouers is eerstegenerasie-studente en studente uit die "verlore middel"-groep wat nie die finansiële hulpbronne tot hul beskikking het om verder te studeer nie.

Vir Estelle Dippenaar is dit net 'n plesier en voorreg om 'n positiewe verskil in studente se lewens te maak. "Die filosofie van ons familietrust is opvoeding – so dit maak net sin om geld vir beurse te gee." Hulle glo ook daaraan om verhoudings met die beurshouers op te bou, vandaar hul jaarlikse Dippenaar Familietrust-ete. "Dit is so lekker om die studente beter te leer ken en te hoor wat hulle doen en meer uit te vind oor hul toekomsplanne. Ons is al selfs na troues genooi!" sê sy.

Maar vir haar is die kettingreaksie van hul skenking veral verblydend. "Ek voel ons het 'n saadjie geplant," verduidelik sy. "Baie van hierdie beurshouers wil self eendag, wanneer hulle by magte is, ook terugploeg en ’n nuwe generasie studente bemagtig. Nou dít is vir my wonderlik."