Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

Ons het hom bietjie van nader leer ken.

Vertel ons meer oor jouself.

Ek is 'n surfer van Plettenbergbaai met 'n liefde vir mense en die lewe. Ek glo ons almal is hier om die wêreld 'n beter plek te maak, al is dit net ‘n bietjie, op ons unieke manier, met ons unieke gawes en te midde van ons unieke omstandighede.

Ek het in 2004 in Outeniqua op George gematrikuleer, waarna ek BRek op Stellenbosch geswot het — vanaf 2005 tot 2008. In my tyd op Stellenbosch het ek tot 'n groot mate myself leer ken. Ek was bevoorreg om vier jaar in Helderberg te wees, insluitende my BRek honneursjaar.

Hulle het in ons eerste jaar gesê dat Helderberg 'n plek is waar jy nie net vriende vir die toekoms maak nie, maar ook broers. Ek kan 15 jaar later, “Wat!?”, met oortuiging en dankbaarheid sê dat dit waar is.

Ek is so dankbaar vir 'n groep vriende wat soos broers is. Life happens, soos hulle sê, die goeie en die hartseer. Maar ons was nog altyd daar vir mekaar, deur dik en dun, en dit maak die lewe die moeite werd – die gehalte van ons lewens is nou verbind aan die gehalte van ons verhoudings.

Ek het ook onlangs met my awesome vrou getrou – Marzanne Tredoux (Nou, Eksteen). Dit was ‘n uitdaging om tydens die inperkingstydperk ‘n klein troue te reël, maar deur die genade van Bo, harde werk asook hulp van vriende en familie is ons so dankbaar dat als baie goed verloop het.

Watter tipe werk doen jy?

Ek bly tans in Kaapstad en het onlangs my eie besigheid begin, Axia Advisory. Alhoewel dit in die beginfase en klein is, is my visie is om waarde tot die lewens van ander asook besighede oor 'n wye sprektrum, toe te voeg – beginnende met finansies.

Die doel hier is om aan veral klein- tot mediumgrootte besighede die vaardigheid en insig van ervare geoktrooieerde rekenmeesters te bied, sonder dat hulle permanent een hoef aan te stel. Die realiteit is alle besighede benodig daardie vaardighede om werklik optimaal te funksioneer, maar nie almal kan 'n voltydse hoof-finansiële beampte bekostig nie. Ons bied ook belasting-, rekeningkundige en adviseringsdienste.

Hoekom skenk jy?

Aanvanklik het my goeie vriend Lieb Otto, huidiglik die hoof van Helderberg se Oumansbond, my aangemoedig om dit te doen. Hy was lank reeds bewus van die goeie wat skenkings kan vermag, en het my hiervan oortuig. Tot vandag toe nog skenk hy ruim en gee baie van sy tyd vir die verbetering van die Universiteit asook Helderberg.

Soos ek ouer word, besef ek hoe waar die stelling, “Dit is beter om te gee as om te ontvang” is. Ek’t dit telkens vroeër in my lewe gehoor, maar noudat ek goeie beginsels en praktiese wyshede nagevors het om 'n tipe lewe te lei wat waarde tot die wêreld toevoeg, besef ek hoe belangrik dit is om te gee.

Jy was jonk toe jy begin skenk het. Hoe kon jy dit destyds regkry?

Die beginsel is eenvoudig: skenk net 'n bietjie, watookal jy kan. Met verloop van tyd, maak elke bietjie 'n groot verskil. So het ek, as ek dit nie mis het nie, met R50 in 2009 begin. Dit is maklik om te dink my paar rande gaan nie 'n verskil maak nie. Maar die waarheid is, dis juis wat gebeur. En soos die Engelsman sê, “It compounds over time”. Ek dink regtig ons onderskat die impak wat klein bydrae van individue, gesamentlik, kan maak.

Hoe sal jy ander aanmoedig om te begin skenk?

Begin klein en wees toegewyd. Wat vir ons gewerk het, en steeds werk, is ‘n debietorder. Die aftrekking word aan die begin van die maand gedoen – net soos spaargeld. Meestal vergeet mens daarvan, totdat jy eendag sien hoe dit gegroei het. Jy kan dit amper nie glo nie!

‘n Ander manier is om jouself te vra hoekom jy wil skenk of teruggee. Vir my is dit eenvoudig: ek was baie bevoorreg om aan die Universiteit Stellenbosch te kon studeer. Als wat dit behels: die ongelooflike hoë kwaliteit van onderrig en die graad wat verwerf word; hoe baie werkgewers dit as 'n teken van potensiaal en geloofwaardigheid in jou vaardighede beskou. Wat nog te praat van die lekker studentelewe, en nog meer belangrik, die vriendskappe wat gevorm word.

Ek skenk aan die US, want ek wil help bydra daartoe dat die huidige en toekomstige generasies dieselfde geleenthede kry en die potensiële vrugte vir die res van hul lewens kan pluk. Die verantwoordelikheid is dan hulle s’n om die geleenthede aan te gryp en ‘n sukses daarvan te maak.

Jy het ook aangedui dat jy van jou tyd as 'n mentor vir studente wil gee ...

Namate ek ouer raak, besef ek daar is nogal baie dinge wat ek wens ek geweet het toe ek op universiteit was. Baie is eers relevant wanneer jy 'n grootmens is, maar daar is soveel praktiese wyshede wat my op universiteit sou kon help en wat my beter vir die grootmenswêreld sou voorberei.

Ek het op 27 met 'n lewensafrigter as deel van 'n bestuurdersontwikkeling- en opleidingsprogram gewerk – dit het werklik ‘n positiewe impak op my lewe gehad. Ek kan dus met mentorskap help om ‘n positiewe invloed op 'n jongmens se lewe te hê. Ek glo dit is die moeite werd om ten minste te probeer.