Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

Die kapitaalopbrengs sal jaarliks gebruik word om nagraadse beurse in twee kategorieë toe te ken. Die eerste beurskategorie is vir een of meer nagraadse beurse vir studie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die tweede vir doktorale studie aan 'n oorsese universiteit.

Prof Matthee het in 1965 by die Departement Rekeningkunde (nou die Skool vir Rekeningkunde) aangesluit en het aan die begin van 1972 die jongste professor aan die Universiteit Stellenbosch geword. Hy het 'n wesenlike bydrae tot die ontwikkeling van beide die Departement en die Fakulteit gelewer en het 'n deurslaggewende rol gespeel in die formalisering van kwalifikasies vir aspirant-rekenmeesters. Hy het in 2001, ná 'n akademiese loopbaan van 36 jaar by US, afgetree en is op 1 Julie 2018 oorlede.

"Dié vrygewige erflating is 'n riem onder die hart," het prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit gesê. "As gerespekteerde akademikus het prof Matthee baie studente geïnspireer en nou, danksy die JA Matthee-beursfonds, sal hy studente steeds kan inspireer."

Volgens die testamentêre bepalings sal prof Matthee se twee seuns, Werner en Heinrich Matthee, in die keuringspaneel van onderskeidelik die nagraadse beursfonds en die doktorale beursfonds dien. Van die kriteria waaraan kandidate moet voldoen, is akademiese prestasie asook karakter- en leierseienskappe.

"Ons is bly dat die studiefonds tot stand gebring is en is dankbaar dat ons pa se wense uitgevoer word," het Heinrich Matthee gesê.

Prof Matthee se netjiese figuur, respek vir ander, professionele optrede en die feit dat sy deur altyd oop was vir sy personeel, is van die eienskappe wat deur sy oud-kollegas uitgesonder word. Daar was ook sy legendariese vermoë om 'n lang lys syfers akkuraat te kon optel deur bloot sy vinger daaroor te laat gaan.

Marie Malherbe, prof Matthee se eertydse sekretaresse, vertel graag van die ligte oomblikke in die dekaanskantoor. Sy sê daar was baie, want prof Matthee het 'n ondeunde streep gehad.

Met sy intrede as dekaan in 1996 het hy gesê: "Ek het nog nooit 'n werk of betrekking gehad nie. Dit wat ek deur die jare gedoen het, was vir my 'n stokperdjie – my werk is vir my 'n fees." Almal wat oor die jare die voorreg gehad het om saam met hom te werk, kan hiervan getuig.

"Namens die universiteitsgemeenskap spreek ons graag ons opregte dank teenoor prof Matthee uit. Ons eer sy nagedagtenis en sien daarna uit om uitvoering te gee aan sy wense," het prof Woolard gesê.