Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

Volgens SciMathUS se programbestuurder, Nokwanda Siyengo, het hulle geen idee gehad dat 2020 soveel uitdagings sou bied nie. “Gelukkig kon ons begin met sekere van die aktiwiteite wat ons beplan het. Die gesogte geleentheid was die verwelkomingseremonie waar ons rektor as hoofspreker sou dien om 20 jaar se werksywer te vier.

“Die inperkingstydperk is aangekondig kort voor die eerste kwartaal se vakansie sou aanbreek. Teen daardie tyd het ons reeds die program se doelwitte aan die studente meegedeel. Toe die studente huis toe vertrek, was hulle reeds in werksgroepe verdeel om onderling en met die fasiliteerders in kontak te bly,” onthou sy.

Die span moes vinnig aanpas by 'n nuwe manier van dinge doen en het gevolglik virtuele onderrig vir die studente aangebied. “Ons het aanvanklik WhatsApp-groepe gebruik om dokumente op te laai en besprekings tussen studente moontlik te maak, maar het later die universiteit se virtuele portaal, SunLearn, ingespan om dokumente, video's, toetse en opdragte op te laai.”

Nokwanda sê dat hulle nie net akademiese inhoud behandel het nie, maar dat die kurrikulum ook aangepas is om studente te ondersteun deur op lewensvaardighede soos stres en tydsbestuur te fokus. 'n Uitgebreide kursus oor studiemetodes en -tegnieke het hulle verder vir hul nuwe studieomgewing toegerus. Studente het ook individuele ondersteuning ontvang van een van die SciMathUS-personeellede, Elsje Beyers, betreffende aansoeke by hoëronderwysinstellings vir 2021.

Hierdie ongekende jaar het uitdagings vir studente sowel as fasiliteerders gebring. “Hulle het ongelooflike uitdagings in die gesig gestaar, maar hulle bereidwilligheid het dit telkens getroef. Sommige studente het nie skootrekenaars of gewone rekenaars by die huis gehad nie en moes hul slimfone as 'n onderriginstrument inspan. Ander het met verbinding gesukkel. Aangesien ons 'n vasgestelde rooster gevolg het, kon sommige studente nie bedags aansluit nie, maar hul konneksie sou in die aand verbeter. Dit het beteken dat fasiliteerders telkemaal beskikbaar moes wees wanneer studente in staat was om aan te meld.”

“Soms is dit moeilik om te glo dat ons al 20 jaar aan die gang is,” sê Nokwanda. “Ons is geseënd om te ervaar hoe bykans 1 700 studente die geleentheid benut om die hoër-onderwyssektor te betree en op hierdie manier die kwaliteit van hul lewens te verbeter.”

Die span het dieselfde oogpunt as Nokwanda. Dr Elza Lourens, een van die fasiliteerders sedert die program se aanvang, het gesê: “Gedurende die SciMathUS-jaar sien ons studente voor ons oë groei en blom. Hulle ontwikkel van skaam, onsekere meisies en seuns tot volwassenes wat weet wie hulle is en wat hulle wil hê. Hulle het selfvertroue en is in staat om hulself te laat geld. As fasiliteerders is ons dankbaar om hierdie groeiproses waar te neem.”

Nokwanda erken graag hoe SciMathUS die afgelope 20 jaar ontwikkel het. “Nie slegs getalgewys nie, maar ook in die gehalte van onderrig en opvoeding. Ons evalueer voortdurend wat aangebied word. Ter voorbeeld is ons keuringskriteria wat konstant aangepas word om met die kriteria van die universiteit se onderskeie fakulteite ooreen te stem – d.w.s. in 2001 het ons studente aanvaar wat 30% in matriek behaal het, maar dit moes verander na 45% omdat die universiteit op soek was na 'n hoër punt vir beide Wiskunde en Fisiese Wetenskappe.”

“In die verlede is ons as 'n akademiese oorbruggingsprogram tussen hoërskool en universiteit beskou. Hierna het ons as ‘n toegangsprogram ontwikkel wat saam met die Universiteit Stellenbosch streef om toegang en deelname te verhoog vir diegene vanuit ‘n opvoedingbenadeelde agtergrond. Ons het toegang vanuit ‘n epistemologiese perspektief benader en bied ondersteuning in al die uitdagings wat studente ervaar, naamlik akademiese, psigososiale en kontekstuele uitdagings,” voeg sy by.

Met die jare het SciMathUS heelwat studente opgelewer wat goeie vordering in hul gekose rigting gemaak het. So byvoorbeeld is daar dr Claudia Ntsapi, wat tans 'n dosent en mediese navorser aan die Universiteit van Vrystaat is, dr Gerald Maarman, 'n dosent in mediese fisiologie aan die US, en dr Milton van Rooi, 'n radioaktiwiteitswetenskaplike by die Nasionale Instituut vir Metrologie van Suid-Afrika.

Wat lê vir hierdie noodsaaklike program voor? “Groei, groei en nogmaals groei om ons in ‘n rigting te stuur sodat meer studente gehelp kan word om hulle volle potensiaal te bereik,” sê Nokwanda.

“SciMathUS is 'n program propvol hoop vir studente wat voel dat hul NKV-uitslae hulle in die steek gelaat het en dat die hoop om ooit in wetenskaplike of handelsverwante studierigtings te studeer verlore is. Ek wil graag hê dat ons die program aan meer studente bied. Aan die begin van 2020, toe ons die keuringsproses gedoen het, het ons meer as 1 000 aansoeke vir 100 plekke ontvang. Die behoefte aan die program is groot, maar ons kan nie bekostig om die getalle te vermeerder nie, omdat die program filantropies bestuur word met fondse wat ons van ruimhartige donateurs ontvang.”

“My wens is dat SciMathUS binne die volgende vyf jaar volhoubaar sal wees om die diens aan meer studente te bied.”

  • KLIK HIER of skakel 021 808 3483/3032 vir meer inligting oor die SciMathUS-program.