Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

Die fonds sit in 2021 sy steun aan die Universiteit Stellenbosch Museum se Toegang tot Visuele Kunste Program voort. Hierdie inisiatief wat in 2015 van stapel gestuur is, het ten doel om kuns en visuele kuns vir leerders uit lae-inkomstegroepe meer toeganklik te maak.

“Die inisiatief streef om leerders op ’n praktiese en teoretiese vlak aan kuns bekend te stel. Deur die volgehoue ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds is 1 771 leerders se lewens tot dusver verryk deur blootstelling aan die kunste en visuele kunste,” verduidelik Ricky Brecht, Opvoedings- en Openbareprogrambeampte by die US-museum. 

“Ons plaas veral die klem op skole wat nie kuns as ’n vak aanbied nie. Baie skole in lae-inkomstegemeenskappe in Suid-Afrika het Visuele Kunste-onderrig verminder of geheel en al uit hulle vakaanbod verwyder, al vorm dit nog steeds deel van die nasionale kurrikulum. Die redes vir hierdie kommerwekkende tendens sluit onder andere ’n tekort aan gekwalifiseerde onderwysers asook onvoldoende finansiering en fasiliteite in,” sê Brecht.

Aktiwiteite sluit onder meer in 'n toer deur die museum, tekenoefeninge, kunsontleding asook 'n besoek aan die US se Departement Visuele Kunste vir leerders in Graad 5 tot en met Graad 9.

“Ons hoop dat hierdie inisiatiewe die katalisator sal wees om ontluikende kunstenaars en leiers te ontdek en sommige te inspireer om, ondanks hul omstandighede, verdere studie aan die Universiteit Stellenbosch te oorweeg,” voeg Brecht by.

Die Het Jan Marais Nationale Fonds skenk jaarliks miljoene aan universiteitsprogramme, skole, hospitale, kultuurprojekte, regsklinieke en verskeie ander organisasies en projekte in veral die distrik Stellenbosch.

  • KLIK HIER vir meer oor die US-museum
  • KLIK HIER vir meer oor die Het Jan Marais Nationale Fonds