Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

Vroeër in 2020 het die Professional Provident Society (PPS) Insurance en die PPS-stigting 'n drieledige skenking van persoonlike beskermingstoerusting gemaak, wat 'n donasie van R150 000 vir die aankoop van PBT ingesluit het, asook die aflewering van 'n reeks artikels vir die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe – dit het handskoene, gesigskerms, chirurgiese isolasiejurke en gesigmaskers ingesluit. Hulle is ook in die proses om 'n bykomende R100 000 skenking te maak vir die aankoop van selfs nog beskermingstoerusting.

“Die skenking van persoonlike beskermingstoerusting van die PPS en die PPS-stigting het ons studentevrywilligers op die voorste linie in staat gestel om die risiko van COVID-19 in hul werksomgewing versigtig aan te pak. Ons is dankbaar vir die bydrae wat hulle gelewer het toe ons dringend ondersteuning benodig het,” sê Candice Egan, fondswerwer by die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.

PPS, wat in 1941 gestig is, is die enigste onderlinge finansiële diensonderneming in Suid-Afrika wat uitsluitlik op gegradueerdes beroepslui fokus en maatpas versekering, beleggings- en gesondheidsorgoplossings aan sy lede bied.

Die Stigting wat in 2016 op die been gebring is, is 'n openbare weldaadsorganisasie (PBO) en ondersteun die US se Werkstudieprogram al etlike jare. Die Werkstudieprogram is daarop gemik om die finansiële las van studente vanuit lae-inkomste-agtergronde te verlig deur hulle die geleentheid te bied om ‘n bestaansinkomste te verdien. In 2019 het PPS ook meer as 10 800 etes aan die Universiteit se #Move4Food-inisiatief geskenk wat daarop gemik is om voedselonsekerheid op ons kampusse te verlig.

Subashni Gounder, programbestuurder by die PPS-stigting, sê die programme wat deur die Stigting aangebied word, kyk volledig na die verbetering van die onderrig- en leerervarings in die hoëronderwysruimte. Die PPS-stigting poog om die volhoubare ontwikkeling van Suid-Afrikaanse openbare universiteite en gemeenskappe te bevorder. "Ons primêre doel is om die potensiaal van ons jeug uit te bou."

Volgens Louhan Nel, bemarkingspesialis by PPS aan die US-kampus, is hierdie verhouding op vertroue en wedersydse respek gebou. “Ons sien ons vennootskap met die Universiteit as een wat help om die toekoms van ons land te bou. Wat ons saam met en vir die universiteit doen, is om Suid-Afrika se toekomstige leierskap te ontwikkel. Om John Maxwell aan te haal, “We rise and fall on leadership”. As ons ons deel kan doen om mense te help om die leier in hulself te identifiseer, kan hulle môre die volgende generasie help om dieselfde te doen en so ons nasie op te bou.”