Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

In November 2020 het prof Madonsela en die Studenteraad-voorsitter, Xola Njengele, 'n klim op Tafelberg en 'n staptog in Idasvallei gelei om geld in te samel vir die #Action4Inclusion-veldtog.

Hierdie inisiatief vir studentebefondsing is vroeër in 2020 deur die Studenteraad en prof Madonsela van stapel gestuur met die doel om te verseker dat geen student weens hul finansiële omstandighede agtergelaat word nie.

"Studenteskuld is wêreldwyd 'n hindernis vir toegang tot hoër onderwys. Sommige studente moet noodgedwonge hul studies laat vaar wanneer hulle op die punt staan om te gradueer. Die probleem raak veral studente van die verlore middelgroep en studente vanuit arm werkersklas-agtergronde wat nie meer vir NSFAS-befondsing kwalifiseer nie, dikwels om redes buite hul beheer," verduidelik Madonsela.

"Die COVID-19-pandemie het ons planne vanjaar kom omverwerp, maar met ontspanne beperkings tans in plek, was ons gereed om ons beplande aktiwiteite aan te pak — natuurlik met die nodige veiligheidsmaatreëls," voeg sy by.

Volgens Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, is hierdie inisiatief inderdaad 'n aanvulling tot die bestaande inisiatiewe om fondse vir Matie-studente in te samel. "Dit is aangenaam om te sien hoe ons studente en personeel bymekaar kom om mekaar te ondersteun terwyl ons daaraan werk om gelyke geleenthede vir almal te verseker."

Diegene wat nie aan aktiwiteite kan deelneem nie, kan 'n donasie maak op die aanlyn skenkingsplatform GivenGain. Alle skenkings, maak nie saak of dit groot of klein is nie, is beslis welkom en word werklik waardeer.​

Raak Betrokke:

# Action4Inclusion webwerf: https://www.matiesalumni.com/action4inclusion/?lang=afr
# Action4Inclusion op GivenGain: https://www.givengain.com/cc/action4inclusion/