'n Totale bedrag van R1, 852, 680 is ingesamel as deel van die US se #Train4Fees-veldtog nadat 'n ruim skenker daartoe verbind het om fondse wat in Julie en Augustus 2020 ingesamel is, op 'n rand-vir-rand-basis te verdubbel. “Ons is besig met die lys van studente-atlete wat hulp gaan ontvang, maar ons doel is tans om minstens 44 studente te help," sê Hans Scriba, fondswerwingsbestuurder by die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.
Volgens Scriba het 109 spelers, personeel en ondersteuners gehoor gegee aan die oproep om deel te neem aan die #Train4Fees-veldtog, terwyl meer as 480 donasies van alumni, ondersteuners en korporatiewe donateurs ontvang is. Voormalige en huidige Maties Sport-, Stormers- en Springbokspelers Pieter-Steph du Toit, Breyton Paulse en Schalk Brits het ook hierdie veldtog ondersteun.
#Train4Fees se jongste fondswerwer, die 5-jarige Michael Allcock, het daarin geslaag om 'n 50 km-stap te voltooi en het R9 500 ingesamel — amper dubbel sy oorspronklike teiken van R5 000.
"Ons is so dankbaar dat ons breë Maties-familie soveel steun aan ons studente getoon het. Al die moeite die afgelope drie maande, het ons verwagtinge oortref. Dit is wonderlik om in 'n posisie te wees om hulp aan ons studente te bied, en help ons ook verseker dat geen student agtergelaat word nie," sê Scriba.
Die 3-maande #Train4Fees-veldtog, wat op 1 Junie 2020 van stapel gestuur is deur Maties Sport en die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, het op 31 Augustus 2020 tot 'n einde gekom. Ondersteuners kon geld skenk aan enige van die verskillende Matie-sportkodes op die GivenGain-fondswerwingsplatform of self fondse werf deur te hardloop, fiets te ry, te stap of skaatsplank te ry terwyl hulle hul netwerk - familie, vriende, kollegas of bure - vra om 'n donasie per kilometer te maak.
"Dit wys net dat ons almal met 'n klein bietjie moeite, 'n groot verskil kan maak," voeg Scriba by.
Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur van Maties Sport, sê hierdie baie belangrike inisiatief was een van die opwindendste ervarings gedurende die inperkingstydperk. "Dit het ons as 'n span bymekaar gebring om 'n positiewe uitslag vir ons atlete te lewer."