Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

'n Hars-weergawe van die 10-ton betonbank is voor die US se ingenieurskompleks in Banhoekweg op Stellenbosch opgerig.

"Nadat ek RMB meer as vier dekades gelede gestig het – 'n handelsmerk gebou op groot talent en 'n legendariese waardesentreerde kultuur – word ek nog daagliks herinner aan die positiewe en kenmerkende krag van innoverende denke," verduidelik Ferreira. "Terwyl ek gekyk het na die skep en plasing van hierdie ikoniese kontemporêre stuk deur die bekende kunstenaar Louis Olivier, het ek besef hoe betekenisvol 'n  weergawe van hierdie interaktiewe kunswerk in die universiteitskonteks kan wees. En omdat ek 'n Maties-alumnus is, het die plek vir hierdie geskenk maklik gekom. My hoop is dat die bank, met plek vir 25 mense, bekend sal raak as 'n 'veilige ruimte' om deelnemende oplossings te ondersoek en te deel."

Prof Wim de Villiers, die US se rektor en visekanselier, sê die Universiteit is tans op 'n reis om sy institusionele kultuur te vernuwe. "Dit sluit in om opnuut te kyk na wat visueel sigbaar is in die ruimtelike uitleg, visuele ikonografie en sigbare simbolisme op ons kampusse. Die RMB THINK-bank is 'n welkome toevoeging tot die veranderende US-landskap wat op die regte tyd kom."

"Die kampusgemeenskap en die publiek word nou uitgenooi om 'interaksie' met hierdie installasie te hê met die oog daarop om te sien hoe die finale produk plaaslik gekontekstualiseer moet word," verduidelik dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die US. "Wat veral belangrik is, is hoe die huidige kunswerk in die vorm van die letters 'THINK' gekontekstualiseer kan word om taaldiversiteit te inkorporeer en hoe die spasie gebruik kan word vir gesprek en interaksie met mekaar."

Hy voeg by dat die werk een van 'n reeks visuele regstellingsprojekte is wat tans aan die gang is. "Kunsinstallasies van hierdie aard dra by tot die hervorming van ons ruimtes om verwelkomend, inklusief en al hoe meer diverse te wees, soos dit in die Universiteit se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 in die vooruitsig gestel word."

Die interaktiewe beeldhouwerk waarop meer as 20 studente kan sit, is 'n replika van groter weergawe wat in opdrag van RMB geskep is en waarvan die eerste een in die RMB Think-distrik by sy hoofkantoor in Sandton, Johannesburg geïnstalleer is. Dit is nou 'n herkenbare landmerk in Sandton en die THINK-bankprojek is deur RMB se visie geïnspireer om deel van 'n inisiatief te wees om kreatiewe en innoverende energie op prominente plekke van "vreeslose denke" regoor die land te ontsluit.  

Die eerste beton-weergawe van die installasie is in Augustus 2019 op die Hatfield-kampus van die Universiteit van Pretoria onthul.

"Die bank spel die woord 'THINK' van die een kant af, terwyl 'n mens uit 'n ander perspektief lewensgroot menslike silhoeëtte in verskillende denkposisies sien," verduidelik RMB se kreatiewe raadgewer, Carolynne Waterhouse. "Dit dien as 'n nadenkende herinnering aan studente wat daar verby stap dat 'n mens partykeer jou perspektief moet verander om anders te dink. Dit is 'n bevestiging van die bank se ingesteldheid van 'innoverende en oplossende denke'."

RMB wou 'n manier vind om jong talent byeen te bring en by te dra tot gesprekke wat saak maak. Die bank is deur die kunstenaar Louis Olivier en sy span van die Workhorse bronsgietery in Johannesburg ontwerp. "Oor my kunsloopbaan wat tot dusver oor twee dekades strek, staan hierdie kolossale stuk uit as 'n goeie voorbeeld van die oneindige moontlikhede wat deur samewerking aangewakker word," sê Olivier.

Waartoe Waterhouse byvoeg: "Die Renaissance-kunstenaar Raphael se The School of Athens het as inspirasie gedien vir die aanvanklike span van Louis Olivier, Nkhensani Rihlampfu en Allen Laing. Hierdie groep jong kunstenaars het die verband tussen die voorgestelde School of Athens-fresco wat die 'grootste denkers van alle tye' uitbeeld en die leer- en denkruimtes wat universiteite is, aangegryp."