Digitale Skenkersnuusbrief | Somer 2020

"Die COVID-19-pandemie hou vele nuwe uitdagings en risiko's in en die Universiteit het hard gewerk om die gevolge daarvan te probeer verlig. Toe die aktiwiteite op kampus teen die einde van Maart 2020 opgeskort is, het ons vinnig na aanlyn leer oorgeskakel. Klasse is op 20 April aanlyn hervat, danksy die onvermoeide pogings van die onderrig- en steundienstepersoneel," sê die US-rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers.

“Ons was deeglik bewus van die uitdagings waarmee ons studente te kampe het om by die nuwe en grootliks onbekende leerwyse in die inperkingstydperk te kon aanpas. Daarom het ons alles in ons vermoë gedoen om te verseker dat al ons studente – en veral diegene wat kwesbaar is – die akademiese jaar suksesvol kon voltooi."

Skootrekenaars is op 'n leenbasis beskikbaar gestel aan studente wat sosio-ekonomies benadeel is en databundels is aangeskaf om alle studente toegang tot die internet te bied.

Opleiding aan personeel om onderhoudende inhoud te lewer, was ook 'n belangrike prioriteit. Verder is die kapasiteit van SUNLearn, die Universiteit se studiebestuurstelsel, verbeter om die verhoogde vraag te hanteer toe die meeste aktiwiteite aanlyn plaasgevind het. Stelsels is vaartbelyn gemaak om dit vir studente makliker te maak om toegang tot die nodige bronne en inligting te kry.

Daarbenewens het die Universiteit se Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling aanlyn en telefoniese dienste aan diegene gebied wat akademiese, emosionele of noodhulp benodig het.

'n Toekenning deur die Michael & Susan Dell-stigting, 'n filantropiese organisasie sonder winsoogmerk in die VSA, is aangewend vir pasgemaakte akademiese en psigomaatskaplike steun aan kwesbare studente wat die gevaar geloop het om nie na hul volgende studiejaar te vorder nie. Die toekenning het die akademiese steun verstewig en help verseker dat elke student op koers bly, ondanks die uitdagings wat hulle dalk ervaar. “Ons is dank verskuldig aan die Michael & Susan Dell-stigting, wie se ondersteuning ons ingrypings versterk het sodat ons ons studente kan help slaag," sê De Villiers.

Dr Thashlin Govender, Programdirekteur by die Michael & Susan Dell-stigting, sê: "Daar is 'n behoefte dat organisasies saamspan, meewerk en belê in programme wat universiteitstudente help slaag. Die Michael & Susan Dell-stigting is verbind daartoe om met eendersdenkende vennote, soos die US, saam te werk om studente deurlopend te ondersteun sodat hulle die uitdagings kan oorkom wat langs die pad op hul wag."