Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 1 | Somer 2017

Die bevordering van menslike sukses en prestasie is die filosofie waarvolgens Aurecon sake doen. Dié internasionale raadgewende ingenieursfirma glo daarin om vernuwende ingenieursoplossings sowel as volhoubare oplossings vir maatskaplike en ekonomiese uitdagings te bied. Aurecon het in 2012 besluit om deur ruimhartige skenkings aan die departemente siviele ingenieurswese aan die universiteite van Kaapstad (UK), Stellenbosch (US) en Pretoria (UP) in die nagraadse onderrig van swart studente te belê. Die firma, wat ook reeds langer as 40 jaar in sy eie interne beursprogram belê, het hierdie borgskap vir ’n tydperk van vyf akademiese jaar tot en met 2016 in jaarlikse paaiemente van R400 000 aan elke universiteit beskikbaar gestel. Die sukses van die vyf jaar lange beursprogram het die firma aangespoor om voort te gaan om by te dra tot die onderrig van swart studente om hulle as ingenieurs te bekwaam en die Suid-Afrikaanse ingenieursarbeidsmag te betree. ’n Verdere R250 000 is gedurende 2017 in die beursprogram belê, en nóg R250 000 word in 2018 geskenk.

’n Bewys van die sukses van die Aurecon-beursprogram is dat die Maties wat Aurecon-beurse ontvang het hulle sedertdien in ’n verskeidenheid loopbane gevestig het, waaronder die akademie. Een van hulle is Tata van Rooyen, tans ’n dosent in die US se Departement Siviele Ingenieurswese. Tata het in 2012 ’n Aurecon-beurs vir sy magisterstudie ontvang, en ook weer vir sy PhD-studie van 2013 tot 2015. Aurecon se steun het ’n beduidende invloed op Tata se navorsingsloopbaan gehad. “Ek is dankbaar dat ek die beurs ontvang het, want dit het van die finansiële druk op die navorsingsgroep verlig. Danksy die beurssteun kon ons broodnodige toerusting aankoop en ook die VSA besoek om ’n referaat aan te bied. Boonop kon ek binnelands reis – wat beteken die beurs het my plaaslike én internasionale blootstelling help gee.”


Aurecon glo onderwys is noodsaaklik om die leiers van die toekoms suksesvol met vaardighede toe te rus. Hierdie waardestelsel blyk uit die maatskappy se verbintenis daartoe om geleenthede vir begaafde jong Suid-Afrikaners te bied. Agt studente van die Universiteit Stellenbosch se Departement Siviele Ingenieurswese het al by Aurecon se beurssteun baat gevind – van wie twee tans vir magisterstudie geregistreer is.


Albert Geldenhuys, ’n Matie-alumnus en voormalige bestuurder by Aurecon, glo dat studente, benewens finansiële bystand, ook voortgesette mentorleiding nodig het. “Om die ongelykhede van die verlede deur middel van finansiële steun te help regstel is die eerste stap. Tog besef ons ook dat baie beursbegunstigdes deur hulle hele loopbaan leiding en steun sal nodig kry,” sê hy. Beurssteun is vir Aurecon uiters vervullend omdat dit die maatskappy in staat stel om passievolle, toegewyde en innoverende individue te help toerus en ondersteun. Op sy beurt help maak hierdie belegging nie net Aurecon self toekomsfiks nie, maar ook die land sowel as die gemeenskappe waarin Aurecon sake doen. 

 
 As internasionale infrastruktuurraadgewer en ingenieurskonsultant, bied Aurecon gegradueerdes die geleentheid om betrokke te raak by spesialisterreine waarin hulle belang stel, om van ervare ingenieurs te leer, en aan projekte te werk wat Afrikane nog vir baie lank sal inspireer. Aurecon-beursbegunstigdes word aan Aurecon-mentors toegewys, wat aktief betrokke is by die beursontvangers se loopbaanontwikkeling. “Studente wat by die skema baat vind, is gewoonlik dankbaar vir die steun wat hulle van die maatskappy ontvang, en baie van hierdie siviele ingenieurstudente van die Universiteit Stellenbosch wat in die program was, het sedertdien werksaanbiedinge van Aurecon aanvaar.” Die US se Departement Siviele Ingenieurswese en Aurecon handhaaf ’n hegte verhouding. Die Departement werk ten nouste saam met Aurecon om te sorg dat die beursskema voortgaan om swart studente die geleentheid te bied om as leiers en deskundiges op ingenieursgebied opgelei te word, in die hoop dat hulle uitvoering sal gee aan die US se strewe


“Na ’n loopbaan van sowat 40 jaar in die ingenieursbedryf wy ek nou heelwat van my tyd daaraan om jongmense wat graag hulleself wil help en in hulle loopbane wil vorder, by te staan en te onderskraag. Geniet jou tyd op universiteit – dít is waar jy die fassinerende wêreld van ingenieurswese sal begin verstaan. En onthou, daar is geen plaasvervanger vir geesdrif en harde werk nie.”

Albert Geldenhuys, voormalige besturende direkteur van Aurecon SA