Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 1 | Somer 2017

The Sophia Foundation, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat in September 2012 gestig is en vanuit Suid-Afrika werk, wil die ontwikkeling van vrye individue bevorder wat self doel en rigting aan hulle eie lewens kan gee. “Die stigting is verbind tot genesing vir ’n positiewe toekoms deur kreatief te werk te gaan om ’n bewustheid van ander by mense te laat posvat,” verduidelik stigter Lorraine Forbes.


Forbes het ’n BSc-graad aan die Universiteit van Kaapstad voltooi met Wiskundige Statistiek en Numeriese Ontleding en Berekeninge as hoofvakke. Tog sê sy haar “werklike opvoeding” het sy in die skool van die lewe ontvang. Hier het sy na antwoorde gesoek op die vrae ‘Wie is ek?’, ‘Wat is die doel van die menslike bestaan?’ en ‘Wat is ek bestem om te doen?’.


“Ek is veral beïnvloed deur die studie van die groot godsdienstige tradisies; die werk van Carl Jung, die stigter van analitiese sielkunde, en deur Rudolf Steiner, wat in sy navorsing aanvoer dat menswees ’n voortdurende proses van transformasie en evolusie behels. Ek het besef dit is slegs deur bewustheid dat mense kan begin verantwoordelikheid aanvaar vir die gevolge van hulle dade én vir die impak van hulle dade op alles en almal om hulle,” sê sy.


Die stigting se borgskap sal die bedryfs-, bestuurs- en administratiewe koste van die program “Just Lead!” dek. Dit is bestem om oor ’n tydperk van drie jaar ses kursusse te finansier vir 900 deelnemers, van wie die helfte van die Universiteit Stellenbosch en die res van ander tersiêre instellings en nieregeringsorganisasies sal kom.  


Volgens Forbes bied “Just Lead!” enorme potensiaal om positiewe en verantwoordbare leierskap te skep. “Dis iets wat ons dringend nodig het in die huidige politieke klimaat in Suid-Afrika met sy leierskapsvakuum, en waar soveel wedywerende ideologieë en gepolariseerde sienings so baie op die spel plaas. Sulke leierskap verg verbeelding en ’n waarheids- en verantwoordelikheidsbesef om ál ons verskille en ontwikkelingsvlakke in ag te neem en saam te werk ter wille van ’n inklusiewe en geïntegreerde samelewing.


“Een van die kernoortuigings van The Sophia Foundation is dat finansiers saam met implementeerders aanspreeklik is vir die impak van enige program. Daarom tree ons graag op as waarnemers, medewerkers en ondersteuners in die inwerkingstelling van die projekte wat ons ondersteun. The Sophia Foundation sal sekere skakelingsgeleenthede met die program hê waaroor ons met die Instituut ooreengekom het, wat sal insluit toegang tot die kursusinhoud en bywoning van sommige van die aktiwiteite met betrekking tot die program,” verduidelik sy.


“Ons moet nog baie van ons geskiedenis – sowel voor as ná 1994 – leer en te bowe kom, en saam probeer verstaan deur watter swaarkry ons as ’n nasie is, maar Suid-Afrika is ’n land vol dapper mense, en daar is ’n klomp aktiewe burgers wat hulle beywer vir wat goed en reg is. Ek glo ons is by ’n kantelpunt, maar die moontlikheid bestaan steeds dat ons met die lesse wat ons geleer het, en met wyse en verantwoordbare leierskap, weer daardie baken van hoop vir die res van die wêreld kan word en deur ons voorbeeld kan lei.


“Ek hoop dat ‘Just Lead!’ hierdie soort leierskap in die hand sal werk deur studente toe te rus om die leiers van die toekoms te wees, en dat die invloed daarvan na alle vlakke van die samelewing sal oorspoel. Dít is op stuk van sake waarom The Sophia Foundation sy hulpbronne beskikbaar gestel het.”

Die “Just Lead!”-kursus ondersoek leierskap as ’n agent vir maatskaplike verandering, sowel as maniere om ander tot gesamentlike optrede aan te spoor.

Die program sal van ons toekomstige leiers se denke rig en beïnvloed, en kan op etlike verskillende maniere ’n impak hê.  

Die kursusse sal uit agt aanlyn sessies bestaan wat met ingang van 2018 vanaf Januarie tot Junie en weer vanaf Julie tot Desember aangebied sal word.

Elke kursus sal gevolg word deur ’n drie dae lange praktiese opleidingstydperk, wat gesprekskafees met denkleiers, aanbiedings oor gemeenskapsprojekte, werksessies vir praktiese vaardigheidsontwikkeling sowel as beleidsgesprekke sal insluit.