Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 1 | Somer 2017

Die Universiteit Stellenbosch is volgende jaar 100 jaar oud!

Baie dinge het verander sedert die Universiteit in 1918 gestig is, maar die oortuiging dat universiteite ’n belangrike taak het, het bly staan. Hierdie ou universiteit het ’n lang pad agter die rug en, soos enige groot openbare instelling op enige plek in die wêreld, het ons reis ’n paar avonture ingesluit.

Ons honderdjaarviering gee aan elke generasie geleentheid om eienaarskap van hulle nalatenskap te neem – en dit te omskep.

Universiteite wêreldwyd, net soos in Suid-Afrika, het hulle alumni en vriende meer as ooit nodig. Dit geld ook van Maties. Die hoëronderwyssektor het ’n uitdagende tydvak betree, en dit is die konteks waarbinne ons die nuwe US Jaarfonds van stapel stuur. Ons mik daarvoor om onbeperkte befondsing van alumni, ouers, personeel en vriende van die Universiteit te bekom om projekte te bedryf wat voorsien in die grootste behoeftes onder studente waarvoor daar andersins nie fondse sou wees nie. Een voorbeeld is aanvulbefondsing vir beurshouers, wat studente in staat stel om hulle studies op ‘n volgende vlak voort te sit.

Die Jaarfonds vra elke jaar opnuut dat bestaande sowel as potensiële skenkers die US hierin sal ondersteun. Een van die vernaamste beweegredes vir ’n skenking aan die US Jaarfonds is dat dit die Universiteit sal help om armoede uit te wis. Een gegradueerde uit die werkersklas verander ’n hele gesin se toekoms. Die huidige indiensnemingskoers van ons gegradueerdes is 96%.

Onlangse navorsing onder gegradueerdes het die volgende bevind:

  • Gegradueerdes beklee poste op hoër vlakke as ongegradueerde persone.
  • Gegradueerdes se gesondheidsaanwysers lyk beter deurdat hulle minder geneig is om te rook, meer geneig is om te oefen en minder vatbaar vir depressie is.
  • Gegradueerdes se kinders baat ook by hulle ouers se opvoedkundige sukses: gegradueerdes is geneig om meer betrokke by hulle kinders se opvoeding te wees.
  • Gegradueerdes is meer invloedryk in hulle gemeenskap deurdat hulle aktiewe burgers is, wat meer geneig is om hulle stemreg uit te oefen en vrywilligerswerk te doen.
  • Gegradueerdes toon ’n positiewe ingesteldheid teenoor diversiteit en gelyke geleenthede, byvoorbeeld oor gelykheidskwessies wat ras en gender betref.
  • Gegradueerdes beskik oor hoërvlakvaardighede, en is gevolglik ’n groter bron van innovering en ekonomiese groei in die breë.

Ons hoofdoelwit met die US Jaarfonds is om te verseker dat daar fondse beskikbaar is waarmee ons vinnig en gepas kan hulp verleen op die gebiede waar studente die grootste nood ondervind. U skenkings het ’n bepalende en onmiddellike uitwerking op die gehalte van ons studente se universiteitservaring.

 

ORGANISASIE NAAM:
BANK:
TAK:
TAK KODE:
REKENING NAAM:
REKENING NOMMER:
VERWYSING:
       Universiteit van Stellenbosch
Standard Bank
Stellenbosch
05 06 10
Universiteit vsn Stellenbosch
073006955
Voorletter, Van R2090