Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 1 | Somer 2017

As Suid-Afrika se hoofkragprodusent, is Eskom daartoe verbind om die ligte in huise, skole, hospitale en ondernemings landwyd aan te hou. Tog gaan Eskom oor méér as net kragstasies en -maste. Die kern waarom dié nutsmaatskappy se bedrywighede draai, is om Suid-Afrikaners se lewens werklik te verbeter. Een manier om dít te doen, is deur jongmense met behulp van die Eskom-ontwikkelingstigting te bemagtig.


Die Eskom-ontwikkelingstigting is die afgelope vyf jaar reeds die hooffinansier van die universiteitsvoorbereidingsprogram SciMathUS, ’n projek van die Universiteit Stellenbosch Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP).


SciMathUS bied ’n tweede kans vir studente uit onderwysbenadeelde gemeenskappe wat graad 12 geslaag het, maar nie vir toelating tot hoër onderwys gekeur is nie. Afgesien daarvan dat die program studente voorberei om die NSS-eksamen in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe te herhaal, is die doel ook om leerders met die vaardighede toe te rus om suksesvol aan ’n tersiêre instelling te studeer, hulle redeneer-, interpersoonlike, tydbestuur- en probleemoplossingsvaardighede te slyp, en hulle te leer om verantwoordelikheid vir hulle eie ontwikkeling te aanvaar. Die program word ten volle met bydraes van verskillende maatskappye, organisasies en stigtings soos die Eskom-ontwikkelingstigting gefinansier.


Met Eskom se ondersteuning sedert 2013 ontvang 50 studente van oor die hele land elke jaar ’n tweede geleentheid om toegang tot hoër onderwys te bekom.

Die meeste van die SciMathUS-studente wat die program suksesvol voltooi het, het aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf. Die eerste studente in die Eskom-ondersteunde kohort van 2013 wat vir driejaargraadprogramme ingeskryf het, het teen die einde van 2016 gegradueer. Vier van die vyf gegradueerdes het onverwyld vir nagraadse studie ingeskryf. Teen die einde van 2017 gradueer die eerste studente wat vir vierjaargraadprogramme geregistreer het, sowel as die eerste groep wat in 2014 vir driejaarprogramme ingeskryf het.


Selometsi Sehloho is ’n jong vrou wat besig is om by die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese (ECSA) as ’n professionele ingenieur te registreer. Sy vertel:


My reis om ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch te studeer, het by SciMathUS begin. Ek het in matriek om dié program aansoek gedoen ingeval my aansoek om [by ’n ander universiteit] BSc Chemie te gaan studeer, sou misluk. Só het dit dan gekom dat ek vir SciMathUS aanvaar is. Dit was die begin van my reis om my as ’n professionele ingenieur te bekwaam.

SciMathUS het my kennisleemtes in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe oorbrug. Ons is ook deeglik op die studentelewe oor die algemeen voorberei. Vir my was die hoogtepunt van SciMathUS die ongelooflike ondersteuning wat ons ontvang het. Vir ’n algehele nuweling op Stellenbosch (ek’s oorspronklik van die Vrystaat) was dit geweldig kosbaar.
 
My punte het tot ’n A en B gestyg, en ek is in 2006 vir die program BIng (Chemies) aan die Universiteit Stellenbosch aanvaar. SciMathUS se ondersteuning het voortgeduur en my veral deur my eerste jaar gedra.

Ek het my studie in 2011 suksesvol voltooi, en is in 2012 in die ingenieursopleidingsprogram by Eskom se Lethabo-kragstasie aangestel.

Na afloop van daardie opleiding in 2013 is ek in 2014 as ’n integrasie-ingenieur by Medupi-kragstasie aangestel. Hier is ek hoofsaaklik verantwoordelik vir die bestuur van ingenieursveranderinge en -projekte sowel as die voorsiening van tegniese advies en bystand.

Ek hou baie van wat ek doen, en geniet elke oomblik. Bowenal is dit baie vervullend om die ‘ligte aan te hou’ en te weet dat wat jy doen ’n impak op die samelewing het.

Ek groei voortdurend en leer nuwe dinge. Dit het alles begin met die geleentheid en grondslag wat SciMathUS my gegee het. Daarvoor is ek baie dankbaar.

Kampushuisvesting is beskikbaar vir alle SciMathUS-studente, wat dit selfs geriefliker maak vir studente van oor die hele land om vir hierdie program in te skryf.


Studente met ’n NSS-gemiddeld van ten minste 60% (wat Lewensoriëntering uitsluit), en 45% in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde, kan aansoek doen. Die Wiskunde/Fisiese Wetenskappe-stroom herhaal die NSS-eksamen. Die Rekeningkunde-studente is op hulle beurt formeel deel van die Universiteit se verlengde graadprogram in die vakke Inleiding tot Rekeningkunde en Ekonomie, en word dus deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe onderrig en geassesseer.


SciMathUS-studente se prestasie in die kernvakke het oor die afgelope 15 jaar met gemiddeld 15 persentasiepunte verbeter. Met hierdie beter punte kom studente in aanmerking vir keur- en mededingende hoëronderwysprogramme soos geneeskunde, ingenieurswese en rekeningkunde.


Cecil Ramonotsi, waarnemende uitvoerende hoof van die Eskom-ontwikkelingstigting, sê die SciMathUS-program is ’n uitstekende inisiatief wat leerders beter voorberei vir ’n loopbaan op die terrein van die wetenskap, wiskunde en tegnologie, en wat boonop skaars vaardighede aan die land voorsien. “Een van die grootste uitdagings waarvoor leerders te staan kom, is ’n gebrek aan toegang tot opvoedkundige steun van gehalte – iets wat verhoed dat hulle hul volle potensiaal verwesenlik. Hierdie program bied ons ’n volhoubare oplossing vir daardie uitdaging,” sê Ramonotsi.


SciMathUS volg ’n benadering van aktiewe leer, wat sterker klem plaas op wat studente leer eerder as wat opvoeders onderrig. Hierdie benadering beklemtoon selfgerigte leer, want studente aanvaar verantwoordelikheid vir hulle eie leer, neem aktief deel aan die leerproses, en besin en neem beheer oor hulle eie leeraktiwiteite. Dit daag leerders ook uit om te ontdek hóé hulle leer, om gepaste leerhulpbronne en -strategieë te bepaal en te gebruik, en om krities te leer dink.


Terwyl hulle SciMathUS voltooi, word studente bygestaan om ingeligte loopbaanbesluite te neem.