Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 1 | Somer 2017

DRIE VRIENDE HET KRAGTE SAAMGESNOER EN DIE MSAADA TRUST GESTIG OM BEHOEFTIGE STUDENTE AAN DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH TE HELP.
Om ‘n positiewe verskil te maak en aan minderbevoorregte student ‘n kans op ‘n goeie toekoms te bied. Dít is die beweegrede agter die Msaada Trust, wat in 2012 deur drie vriende, waaronder twee Maties, gestig is.
 
Die Msaada Trust bied beurse aan Matie-studente wat uit enkelouerhuise kom, in finansiële nood verkeer, asook akademies presteer.
 
“Al hoe meer studente word in enkelouerhuise groot en gewoonlik is daar dan ook meer finansiële nood wat
studies bemoeilik. Msaada is ‘n Swahili woord wat ‘hulp’ beteken, en ons het juis die naam gekies omdat hierdie trust hulp aan behoeftige student verleen,” sê dr. Renier Putter, een van die stigterslede en ’n voormalige Matie-student.
 
“Ek het altyd geweet ek wil terugploeg en met die hulp van my vriende wat almal op een of ander manier ‘n verbintenis met Maties het, is dit juis wat ons nou doen,” sê Renier, wat tans as ‘n tandarts in George praktiseer.
 
Sy medestigters is Matie-alumnus Retha Meyer (ten Brink), wat haar BRek en BRek Hons in 2005 en 2006 onderskeidelik voltooi het, asookIlse Botes. “Ek en Retha het albei aan Maties studeer, en Ilse se twee kinders, Johan Botes en Liesel Nieuwenhuizen (Botes), is ook albei Maties-alumni van die Fakulteit Teologie,” vertel hy.
 
Volgens Renier het die idee van ‘n beursfonds in 2012 begin en het dit hulle ‘n redelike tydjie geneem om al die administratiewe take af te handel en by al die regte instansies te registreer. “Ons eerste beurse is uiteindelik in 2014 toegeken en daarna op ‘n jaarlikse basis. Die trust is ook by SARS geregistreer as ‘n Artikel 18A-entiteit, wat beteken dat fondse wat aan Msaada Trust geskenk word deur die donateur belastingafskryfbaar is,” verduidelik hy.
 
Renier meen die beursfonds is ‘n praktiese manier om betrokke te raak by die ondersteuning van studente en om ‘n tasbare en positiewe verskil te maak. Hy beklemtoon egter dat hulle nie net geld aan naamlose individue skenk nie, maar dat dit vir hulle belangrik is om ‘n verhouding met beursontvangers op te bou.
 
“Dit is belangrik dat daar ‘n verhouding oor tyd tussen ons en die studente ontwikkel. Deur middel van ‘n beursfonds weet ons presies wie die studente is wat deur die fonds gehelp word, en ons glo dit verleen ‘n
mate van persoonlikheid en egtheid daaraan.”
 
Die trust het reeds drie studente in 2014, ses studente in 2015, en drie studente in 2016 van gedeeltelike beurse voorsien. In 2017 is daar twee studente wat voordeel uit hierdie beurs trek. “Op die oomblik word slegs ‘n gedeelte van ‘n ontvanger se studies gedek aangesien ons fondse in hierdie stadium nie toelaat dat ons volle beurse kan gee nie.
 
“Ons werk egter daaraan om in die toekoms volle beurse aan verdienstelike studente te verskaf.”Hy sê hulle plan is ook dat studente wat deur die trust gehelp word dan weer later self as skenkers kan optree
om sodoende ‘n volgende generasie studente te help.
 
“Ons almal besef watter positiewe impak gesogte gegradueerdes op die Suid-Afrikaanse samelewing en ekonomie kan hê. Msaada Trust is ons manier om so ‘n bydrae tot ‘n welvarende Suid-Afrika te lewer. Ons hoop is dat daar meer van ons sal wees wat sal naderstaan en op so ‘n wyse ‘n verskil wil maak,” sê Renier.

  • Indien jy graag meer van hierdie beursfonds wil weet of ‘n belegging in ‘n student se toekoms wil maak, stuur gerus ‘n e-pos na msaadatrust@gmail.com.

 

 Hoe beurse help

 

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning van die Msaada Trust, wat besluit het om ’n vennoot te word in ons strewe na ’n gedeelde toekoms vir alle Maties.
 
“Hulle is, soos ons ander donateurs, waarlik ’n ondersteuningsnetwerk vir studente wat hul volle
potensiaal wil bereik,”sê Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, die
Afdeling verantwoordelik vir fondswerwing aan die US.
 
Sy sê die aanname dat alle US-studente uit welgestelde families kom, is nie korrek nie. “Meer as ’n derde van ons nuutste gegradueerdes het een of ander vorm van finansiële ondersteuning tydens hul studies ontvang.
 
Dit is fassinerend om te sien hoe dit oor tyd verander het.” In 2000 het 28% Maties finansiële ondersteuning ontvang. Teen 2014, het die syfer gestyg tot 38%. En in 2016 was 41% van ons
studente uit die sogenaamde “missing middle”, huishoudings met ’n gesamentlike inkomste van minder as R600 000 per jaar.