Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 1 | Somer 2017

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), is verkies tot ondervoorsitter van Universiteite Suid-Afrika (USAf) vir 2018 en 2019. USAf, wat voorheen bekend was as Hoër Onderwys Suid-Afrika (of HESA, die afkorting in Engels), is 'n ledeorganisasie wat ál 26 openbare universiteite in Suid-Afrika verteenwoordig.


“Dit sal vir my 'n eer wees om ons sektor op hierdie manier op so 'n deurslaggewende tydstip te dien. Die hoër onderwys vervul 'n noodsaaklike rol in ons samelewing, maar is onder druk weens 'n onseker finansieringsmodel. Ons moet maniere vind om sistemiese volhoubaarheid te bevorder," het prof De Villiers gesê.


Op internasionale vlak is hy aangestel om vir 'n tydperk van drie jaar vanaf 1 Augustus 2017 in die raad van die Vereniging van Statebondsuniversiteite (of ACU in Engels) te dien. Die ACU is die wêreld se eerste internasionale universiteitsnetwerk en is in 1913 gestig. Dit het meer as 500 lede-instellings in meer as 50 lande. Prof De Villiers sal distrik III verteenwoordig, wat Suid-Afrika en ander lande in ons streek, soos Botswana, Lesotho, Malawi, Mosambiek, Namibië, Zambië en Zimbabwe, insluit.


“Ek sien daarna uit om internasionale netwerke ten bate van ons streek te bou. Ons kan baie voordeel hieruit trek, maar het ook heelwat om te gee," het hy gesê.