Digitale Skenkersnuusbrief | Uitgawe 1 | Somer 2017

Uit ’n fondswerwingsoogpunt was die grootste hoogtepunt van die jaar ongetwyfeld die uitbetaling van die skenkingsfonds ten bedrae van R196 miljoen uit die boedel van wyle DW Ackermann. Ooreenkomstig die skenker se wense in sy testament sal daar jaarliks na raming R5 miljoen beskikbaar wees vir studiebeurse op die gebied van elektriese en elektroniese ingenieurswese. Hierdie erflating versterk die uitnemende werk wat reeds in hierdie departement van die Fakulteit Ingenieurswese gedoen word.



Fondswerwers het onlangs nege stede in drie lande besoek om 33 vergaderings met voornemende skenkers, bestaande skenkers en ander vriende van die Universiteit Stellenbosch (US) by te woon. Hierdie besoeke het etlike geleenthede gebied om die Universiteit meer internasionale blootstelling te gee, en het verskeie skenkingsbeloftes opgelewer om van werk te maak in die tweede helfte van vanjaar.  



Afgesien van prof Wim de Villiers se fondswerwingsbesoek aan die Verenigde Koninkryk van 15 tot 22 Mei, het die Rektor in Junie ook ’n 13 dae lange besoek aan ses stede in die Verenigde State gebring (New York, Boston, Seattle, Los Angeles, Atlanta en Washington DC). Hy het in elk van hierdie stede met bestaande en voornemende US-skenkers geskakel en alumnibyeenkomste aangebied.



Daar was oor die algemeen ’n goeie balans van Suid-Afrikaanse en Amerikaanse alumni by die meeste van dié geleenthede, wat Maties in die verskeie streke van die Verenigde State geleentheid gebied het om met mekaar te skakel, hegter persoonlike netwerke te bou, en terselfdertyd die US se teenwoordigheid in die Verenigde State te versterk. Verdere hoogtepunte van die verskillende Amerikaanse alumnigeleenthede was die verhoogde getal jong alumni wat daar was as deel van ons pogings om na Maties van verskillende generasies uit te reik, sowel as die geleentheid om moontlike alumni te identifiseer wat sou bereid wees om as koördineerders en fasiliteerders van alumnikerne in elk van die stede te dien. 





Ondanks die beduidende transformasie van die Universiteit oor die afgelope dekade – onder meer intensiewe, proaktiewe pogings om akademici van kleur van oor die hele Suid-Afrika te werf – is daar ’n hardnekkige opvatting dat die US ’n welgestelde, wit, Afrikaanssprekende kampus is. Die aanname dat alle US-studente uit welgestelde omstandighede kom, is allesbehalwe waar. ’n Onlangse raming van ons “missing middle” het getoon dat 41% (12 577) van ons studente in 2016 uit huishoudings gekom het met ’n jaarlikse inkomste van R600 000 of minder.  



Die beskouing van die US as ’n ‘voorheen bevoordeelde’ universiteit het ernstige implikasies wat byvoorbeeld staatsfinansiering betref, en ’n beduidend groter gedeelte van die beskikbare NSFAS-beurse gaan eerder na universiteite wat in die ‘voorheen benadeelde’ kategorie val. Om dié rede het slegs 966 van die altesaam 1 627 US-studente wat teoreties in 2016 vir NSFAS-beurse in aanmerking gekom het, dit uiteindelik ontvang. Die oorblywende 650 studente is almal met beurse uit die Universiteit se institusionele finansiering bygestaan, welke finansieringstroom teen 2018 uitgeput sal wees.



Daar is ’n voortgesette behoefte dat die fondswerwingspan beursbelegging in die Universiteit aanmoedig om ons strewe na transformasie te ondersteun. Die persentasie studente van kleur by die Universiteit het reeds tot 38% aangegroei (uit ’n totaal van 30 150 in 2016), en sal binne die volgende drie jaar nog tot ten minste 40% van voor- en nagraadse studente styg. Ons maak staat op u volgehoue toewyding aan ’n ten volle diverse en uitnemende Universiteit Stellenbosch, vandag én in die toekoms. Wees verseker van ons allergrootste waardering vir u ondersteuning.

Karen Bruns

Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge
kbruns@sun.ac.za